Ben Gerber met sy boek ‘Bennie en Die Uilbende (Kaskenades in die ou Suideinde)’.

Foto: Heilie Combrinck

Praat nou van ’n boek wat sorgvrye seuns-grootwordjare kleurryk beskryf, dan praat jy van Bennie en Die Uilbende (Kaskenades in die ou Suideinde). ’n Mens kan maar sê dit is Trompie en die Boksombende in oortreffende trap.

“Die verskil is dat hierdie die waarheid is oor my grootwordjare in Southdene, Leaplek, en Suideinde. Daar is enkele stukkies fiksie, maar selfs die fiksie is gebaseer op ware gebeure.” sê Ben Gerber van Despatch, afgetrede onderwyser van HTS Daniel Pienaar, en skrywer van Bennie en Die Uilbende (Kaskenades in die Ou Suideinde).

Bennie en Die Uilbende is uniek en histories waar. Die boek bevat 32 kortverhale oor my grootwordjare. Eers in Southdene, waar die armste van armblankes in houthuise van die eens terugkerende soldate uit die Tweede Wêreldoorlog gebly het. Later is ons verskuif na Leaplek in Suideinde, ’n kosmopolitiese woonbuurt met Chinese, Bruinmense en Indiërs,” sê Ben.

“Basies kom dit daarop neer dat die verhaal deur die oë van ’n kinderbende geskryf word. Ons belewenisse, die lief, leed, romanses, en kattekwaad in die ou Suideinde, wat eintlik PE se eie Distrik 6 was.”

Southdene was ’n woonbuurt oorkant die Port Elizabeth lughawe wat deesdae bekendstaan as die Chief Dawid Stuurman-lughawe. Southdene het ’n voorbereiding- sowel as ’n laerskool gehad. Vandag is al die huise afgebreek en bestaan die woonbuurt nie meer nie.

Die legendariese Springbokrugbyspeler Danie Gerber het ook in Southdene en later jare Leaplek grootgeword. In die boek is daar enkele verwysings na Danie Gerber se kinderjare, wat volgens die skrywer “nog nie elders op skrif gestel is nie.”

“Danie kom uit die nederigste woonbuurt, waar my ma hom talle kere kaalbas terug huis toe gestuur het. En dié einste stoutgat het met sy talent dit tot in die Hall of Fame in Engeland gemaak!” sê Gerber, wat nie verwant is aan die “Doring van Despatch” nie.

In een van die hoofstukke skryf Gerber hoe Danie Gerber, wat toe reeds baie vinnig was, ’n skoolbus agternagesit het, nadat een van die skrywer se broers, Deon, sy tas in die bus vergeet het.

“Danie het net gesê hou my tas! Toe trek hy teen ’n spoed weg en hol die bus, wat al ’n halwe kilometer weg was in, spring in die bus, kry die tas en hardloop terug.”

In een van Gerber se ander hoofstukke vertel hy hoe hulle vanaf die Laerskool Southdene ’n paar kilometer om die lughawe se aanloopbaan moes loop om by hul huise in Leaplek te kom.

“Soms het ons besluit om kortpad te vat. Dan klim ons oor die lughawe se hoë heining en hardloop oor die aanloopbaan. Dit was groot sports, want soms het daar ’n vliegtuig ingekom om te land, of die lughawe se patrolliebakkie het ons gejaag.”

Gerber sê hy het die verhale “so bietjie gedramatiseer. Dit is 98% die waarheid, met so bietjie omstandigheidswaarhede vir die effek ingeskryf om die leser se verbeelding in die storie in te trek.”

Bennie en Die Uilbende beslaan 135 bladsye met hoofstukke oor Gerber se kleintyd-herinneringe. In die middel is daar 12 historiese foto’s wat sy pa met ’n bokskamera geneem het.

“Dit gee lesers ’n visuele idee van hoe dit destyds in Southdene en Leaplek gelyk het.”

Die boek is taalkundig versorg deur sy oud-kollegas Riaan van der Merwe en Rina Kahts. Dit is geskryf vir lesers tussen grade 4-9, maar volwasse lesers kan die gebeure binne ’n historiese konteks ook interessant vind.

“Heelwat mense wat saam met my in Southdene en Leaplek grootgeword het, het reeds vir hulle dié boek aangeskaf. Daar is selfs ’n Southdene-groep van mense wat soos ek dáár grootgeword het.”

Hy het ook ’n kopie aan die Suideinde Museum geskenk.

Gerber het ook twee digbundels uitgegee en is amper klaar met sy vierde boek wat handel oor wedvlugduiwe as ’n stokperdjie in die Oos-Kaap.

  • Die Bennie en Die Uilbende boek is by Ben Gerber beskikbaar teen R120 per kopie. Om ’n kopie te bekom of vir meer inligting bel hom by 066 226 1067 of epos gerberbernie9@gmail.com

Ben Gerber se digbundels.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article