Uitenhage Sentrale Sportveld se eens gewilde klubhuis is geplunder vandale. REGS:Die pawiljoen was eens gepak met rugbyondersteuners. Nou is dit gestroop van alle veiligheidsrelings. foto’s:VERSKAF

UITENHAGE Sentrale Sportveld, eens die sentrale vertoonvenster van uitstaande klubrugby met die pawiljoen gepak vol ondersteuners, lyk nou soos ’n verlate murasie.

Marlon Booysen, organiseerder van die VF Plus op Uitenhage, is Sondagoggend deur die opsigter van die Sentrale Sportveld uit nood gebel nadat vandale weereens op die perseel toegesak het.

“Hy het gesê hy is bang en vrees vir sy lewe. Daar was glo wéér vandale op die perseel en alles is afgebreek. Selfs die klubhuis is heeltemal gestroop en gevandaliseer,” sê Booysen.

Die Uitenhage Sentrale Sportveld se ablusiege-riewe is vernietig deur vandale.

“My hart was so seer toe ek sien hoe die plek lyk! ’n Mens kan nie glo dit is die sportveld wat eens ons trots was, waar Gardens en Progress se rugbyspanne jaarliks vir groot opwinding gesorg het nie.”

Deure, rame, vensters, die pawiljoen se veiligheidsrelings en die toilette en wasbakke in die ablusie is alles uitgebreek. In die klubhuis is die plafonne uitgeruk en kaste en rakke stukkend geslaan.

So onlangs nog as 2013 het Gardens en Progress saamgestaan en die geboue, wat munisipale eiendom is, opgeknap en geverf in die kleure van die twee klubs.

Volgens Booysen het die twee klubs ook in daardie jaar die munisipaliteit versoek om as klubs, beheer oor die sportvelde te neem, maar die versoek het op dowe ore geval.

“Kyk hoe lyk ons velde, klubhuis en fasaliteite nou! Dit is onherstelbaar vernietig en onbruikbaar.

“Ons en ons nageslagte sal nooit weer die glorie van sport daar kan beleef nie. Dit is ’n skande dat dit toegelaat is dat die plek oor ’n tydperk so vernietig is,” sê Booysen.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article