Dean Anderson is vir die vierde agtereenvolgende jaar as CRPC duiweklub se klubkampioen aangewys. Foto:VERSKAF


Noem ‘n afstand en ‘n rigting en duiweboer Dean Anderson van Kariega se wedvlugduiwe het dit gewen.

Dit is hoekom hy vanjaar vir die vierde agtereenvolgende jaar CRPC se klubkampioen is en die naaswenner in die UD Duiwe-wedvlug Federasie.

“Ek was vier jaar oud toe ek my eerste vier duiwe van my oom Cecil Hayward gekry het. Vir 26 jaar is duiwe deel van my lewe en die afgelope 19 jaar neem my duiwe aan wedvlugte deel,” sê Dean.

‘n Totaal van 33 trofeë is vanjaar aan hom vir sy duiwe se prestasies toegeken. Dit sluit in wenne in die Noord en Oos rigtings, beste Kortpad en beste Middelpad, beste duif, beste jongduif, beste hen en beste haan en babakampioen om ‘n paar van die titels te noem.

“Goeie duiwe beteken sukses. Ek kan nie my lewe indink sonder duiwe nie. Mense en veral jonges wat belangstel in duiwewedvlugte is welkom om volgende jaar met ons klub kontak te maak,” sê Dean.

  • Jonges wat wil leer oor duiwe en duiwewedvlugte kan Dean Anderson kontak by 061 850 3746.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article