Drostdy Beskermde Werkplek se aktiwiteite is die afgelope jaar weens die pandemie gekniehalter, maar daar is nuwe ywer en opwindende planne vir volgende jaar se program vir dié Kariega-sentrum vir verstandelik gestremdes.
Aansoeke vir nuwe begunstigdes kan tot 15 Desember ingedien word.
“Die begunstigdes na wie ons verwys, is verstandelik- en fisiek-gestremde volwassenes wie se gestremdhede van so aard is dat hul wel aktief deel kan wees van ons programme. Dit sluit in weefwerk, kralekuns, hekel, brei, naaldwerk, houtwerk en bakkersdiens in ons gewilde bakkery,” sê Mia Smit, bestuurder van Drostdy Beskermde Werkplek.
“Vir begunstigdes wat vanjaar in hul finale jaar by spesiale skole is en wie se ouers onseker is waarheen hulle volgende jaar moet gaan, kan daar nou reeds aansoek by Drostdy gedoen word om hulle hier in te neem.
“Maak ‘n afspraak, bring die begunstigde vir assesserings sodat ons hulle vaardighede en belangstellings kan vasstel. Met die administratiewe prosesse reeds in Desember agter die rug, kan hulle volgende jaar op 19 Januarie hier inval en dadelik met die programme begin.
“Ons moedig ook ons bestaande begunstigdes aan om hulle vervoer vir volgende jaar nou reeds te reël sodat hulle nie uitmis op Drostdy se bedrywighede wanneer ons in Januarie afskop met ons werk nie.”
Vervoer vanaf Despatch
‘n Bonus vir verstandelik gestremdes op Despatch wat geregistreer is by Drostdy, is dat daar nou ‘n ekstra bussie is wat hulle tussen Despatch en die Drostdy vervoer.
Drostdy Werkplek se geriewe is rolstoelvriendelik en aangepas vir persone met gestremdhede.
“’n Vriendelike versoek aan die publiek om asseblief nie op die twee parkerings voor ons gebou, wat uitgemerk is as parkerings vir ge-stremdes, stil te hou nie,” sê Smit.
Drostdy bedank Woga Sekuriteit wat uit hul pad gaan om die perseel te beveilig en na die sekuriteit om te sien nadat vandale vroeëer tydens die pandemie duisende rande se skade aangerig het.
- Vir meer inligting bel Mia Smit by 072 457 1181.





