Kierie Slabbert van Despatch by ’n gryswaterstelsel en reënwatertenks in sy seun Paul Slabbert se erf. Slabbert sê elke huishouding behoort teen dié tyd ten minste ’n 10 000 liter watertenk te hê. Foto’s: HEILIE COMBRINCK

Volgens weervoorspellings blyk dit asof die tyd om voorsiening te maak om reënwater op te vang, net so vinning uitloop as die water in die Nelson Mandelabaai metropool se opgaardamme.

Garth Sampson van die Oos-Kaapse weerburo het vroeër gesê dat slegs vloede die Nelson Mandelabaai metropool se opvangsdamme sal kan vul. Tog dui die reënvooruitskattings dat veral stortreën, wat vloede veroorsaak, nie op die korttermyn gaan gebeur nie.

Wat wel voorspel word, is dat droeë krane inwoners se voorland is. Dit geld veral vir die huishoudings waar daar geen reënwatertenks is om water te verskaf nie, of waar geen sisteme in plek is om gryswater te hergebruik nie.

Al meer koop watertenks

Werner Gouws, bestuurder van die Humansdorp Koöperasie op Kariega, sê daar is die afgelope paar maande ’n skerp toename in die verkope van watertenks. Vir hom is dit ’n aanduiding dat meer mense besef die waterkrisis is hier om te bly.

“As ek na ons verkope van watertenks die laaste maand en ’n half in die metropool kyk, is daar ’n skerp styging. So, dit lyk of mense wakker geskrik het en besef hulle moet nou voorsiening maak vir water,” sê Gouws.

“Oor die algemeen koop mense die 5 000 liter tenks om by hul huise op sit sit. Huidiglik het ons ’n promosie vir die 2 400 liter tenks en geniet uitstekende verkope daarvan.”

Gouws sê ook dit help nie die mense wat nou tenks gekoop het wag vir reën nie, hulle moet dit solank opvul met gekoopte boorgatwater.

“Die standaardsisteme vir huishoudings om gryswater op te vang, verkoop ook goed. Dit is baie belangrik om hierdie water weer te gebruik en dit kan jou baie geld spaar. Wasgoedwater is gemiddeld 200 liter per lading wat jy weer kan aanwend in jou toilette.”

Werner Gouws, bestuurder van die Humansdorp Kooperasie op Kariega, sê daar is ‘n skerp toename in die verkope van watertenks wat ‘n aanduiding is dat mense die erns van die waterkrisis besef. Foto: HEILIE COMBRINCK

Elke huis behoort ’n watertenk te hê

Kierie Slabbert van Despatch gebruik al vir langer as dertig jaar reënwater vir huishoudelike gebruik en munisipale water slegs vir wasgoed was. Sy goedgeprakseerde gryswatersisteem word optimaal benut om sy tuin vol inheemse plante nat te lei.

“Elke huis behoort teen dié tyd nou al ten minste ’n 10 000 liter tenk te hê. Dit is jou eie skuld as jou water opraak, jy moes al lankal voorsiening begin maak het,” sê Slabbert.

Volgens hom is die beste om al jou dakke aan vier 5 000 liter tenks te koppel om maksimaal reënwater op te vang.

Kragtekort gaan die Slabberts ook nie kwel nie want die geiser-sonpaneel, wat ook aan die reënwatertenks gekoppel is, sorg dat daar selfs met beurtkrag stoomwarmwater is.

“Die paneel is reg geïnstalleer. Dit moet teen ’n 35 grade helling noord teen die son wys, dan werk dit soos ’n droom.

“My sonpanele vir elektrisiteit word een van die dae geïnstalleer. Ek het lank gelede gesê ons gaan sonder water wees en dit is nou besig om te gebeur.

“Nou sê ek vir jou, krag is volgende en dan kom die rioolprobleme.

“Die land se water- en elektrisiteitkrisis is nie weens ’n tekort aan dié twee belangrike bronne nie, maar weens ’n gebrek aan instandhouding, korrupsie en wetstoepassers wat net monitor en nie optree nie.

“Nee wat, dit is baie beter om staat te maak op reënwater en sonkrag,” sê Slabbert.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article