Die drie klasmaats vanaf 1949 tot 1960 het onlangs saamgekuier om hul 60 jaar Brandwag-reünie te vier wat weens COVID-19 regulasies nie kon gebeur nie. Hulle is Hester Serfontein (néé Bezuidenhout), Chappie Brink en Elbelina Smith (néé Ferreira). Foto:VERSKAF

DRIE klasmaats wat in 1949 hul destydse Sub A-jaar saam op Uitenhage begin het in Laerskool Jordan, wat nou as Laerskool Handhaaf bekendstaan, het onlangs weer saamgekuier.

Chappie Brink, Hester Serfontein (néé Bezuidenhout) en Elbelina (Elbie) Smith (néé Ferreira) was nie net saam in Sub A nie, maar was al die jare saam in die skool tot hul matriekjaar in 1960 by Hoërskool Brandwag.

Die drie het by Le Chameleon op Humansdorp ontmoet, waar Chappie, wat in Johannesburg woon, vanaf sy St Francis-vakansiehuis gekom het terwyl Hester en Elbelina vanuit Jeffreysbaai die pad na die herontmoeting geneem het.

Die Brandwag-matriekklas van 1960 sou verlede jaar hul 60 jaar reünie hou, maar dit is deur die COVID-19 regulasies gestuit. Daarom het die drie klasmaats wat vanaf 1949 tot 1960 saam op skool was besluit om hul eie klein reünie te hou.

Maar, soos Elbie sê, “die herinneringe is kosbaar” en hulle wil graag kontak maak met hul ander klasmaats wat die skoolpad saam met hulle tussen 1949 tot 1960 gestap het.

Veral diegene wat in 1960 saam met hulle aan Brandwag gematrikuleer het.

  • Dié ou klasmaats, of iemand wat een van die ou klasmaats ken, word gevra om Elbelina Smith te bel by 084 813 2554.

– HEILIE COMBRINCK

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article