Feesgangers kan uitsien na die musiek van, onder meer, Brendan Peyper, Lianie May en Elvis Blue.

Foto: Verskaf

Een van die gewildste gesinsfeeste, die Loerie Nartjiefees, word op Saterdag 30 September op die kerkgronde van NG Kerk Loerie gehou. Nie alleen is dit die dertigste keer wat die fees aangebied word nie; dit is ook die eerste keer dat drie gemeentes ’n fees saam aanbied.

Despatch Bothasrus en Despatch-Suid het met NG Kerk Loerie hande geneem en sedert Mei is daar verskeie vergaderings gehou om al die reëlings te bespreek. Lidmate van die drie gemeentes het van die begin af lekker saamgewerk en idees uitgeruil.

Die Nartjiefees is ’n gesinsfees en bied iets vir almal in die gesin. Aktiwiteite vir kinders, ’n pragtige koffiewinkel, kosstalletjies, kunsmarkstalletjies en die beskikbaarheid van plaasprodukte maak die fees ’n heerlike kuierdag in die Gamtoosvallei Die feesterrein is omhein en bied veilige parkeerplek op die terrein. Dit is ’n alkoholvrye fees en geen drank word op die terrein toegelaat nie.

Feesgangers kan vanaf 09:00 uitsien na die musiek van Elvis Blue, Brendan Peyper met volle orkes, Lianie May, Dillon Lerm en Cradock se konsertina koning Chris Brits.

Toegangsgelde (volwassenes R150 en skoliere R80) sluit die optrede van al die kunstenaars in.

Kaartjies kan Nartjiefeesdag by die hekke gekoop word, maar is ook vooraf by Grazing Cow Butchery 041 933 4559 en Body Fuel Express 041 933 1598 op Despatch beskikbaar. In Gqeberha is dit by Westway Tickets 082487 3118 (www.westway.co.za) beskikbaar en op Jeffreysbaai by Slaters Toy Magic 042 293 3992

Die Nartjiefees word Sondag, 1 Oktober, met ’n feesdiens in die kerkgebou van NG Kerk Loerie afgesluit.

Enige navrae omtrent die fees kan aan 079 063 4488 gerig word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article