DIE Hoër Tegniese Skool Daniel Pienaar se eerste krieketspan het die seisoen op ’n hoë noot afgesluit toe hy Nico Malan se o.19-span op Humansdorp met 43 lopies geklop het.
Daniel Pienaar is dus nie net ’n skool wat uitstekende rugbyspelers oplewer nie, maar wys gereeld dat hy ook bedrewe is met die kolf en bal.
Daniel Pienaar het eerste gaan kolf in ’n wedstryd oor 30 boulbeurte en is vir 125 lopies uitgeboul.
Die span se kaptein, Sachin Coetzee, was die groot uitblinker met die kolf en het 59 onoorwonne lopies aangeteken.
Die snelbouler Jadwyn Cona het met vurige boulwerk Nico Malan se kolwers laat bontstaan en het vier paaltjies vir net tien lopies platgetrek.
Dit het Nico Malan se poging gestuit.
Die draaiboulers Jordan Botha en Sachin Coetzee het ook uitgeblink en ’n stewige bydrae tot die oorwinning gemaak.
Botha het in 2/10 platgetrek en Coetzee 2/12.
Met uitstekende boulwerk deur die besoekers kon Nico Malan net 82 lopies aanteken.





