Duisende kilometers van woestynsand- en duine … en toe vloedwater net waar jy kyk!
Vanjaar se Dakar-tydren word beskou as een van die mees uitdagende ooit. Paul Ludeke, ‘n meganiese tegnologie onderwyser aan HTS Daniel Pienaar op Kariega, het as motorwerktuigkundige vir South Racing dié uiterste woestyntoestande tydens vanjaar se Dakar beleef.
Dit was die 45ste Dakar en die vierde een wat in Saoedi-Arabië gehou is. In 14 skofte oor 15 dae is die woestynland vanaf die Rooisee tot by die Persiese Golf deurkruis. ‘n Afstand van 8 549km waarvan 4 706km voet-in-die-hoek was.
Kola du Toit, skoolhoof van HTS Daniel Pienaar, die enigste skool in die land wat motorsport as buitemuurse aktiwiteit aanbied, sê dit is vir die skool ‘n voorreg om ‘n onderwyser te hê wat deel is van motorwerktuigkunde op internasionale vlak.
“Benewens die ervaring, bring hy ook die kennis wat hy by Dakar opdoen terug na ons skool. Dit is ‘n bonus vir ons leerders sowel as vir ons motorsport.”
Min slaap, baie reën, baie werk
Dit was Paul Ludeke se derde Dakar. “Hierdie een was ontsettend hard en ons moes onder baie moeilike omstandighede werk. Daar was nagte wat ons deurnag moes werk en die volgende dag darem so twee ure se slaap op pad kon inkry terwyl ons vir die karre wag.”
Paul het op die T4 karre gewerk, wat ook as SSV (side-by-side vehicles) bekendstaan en in Suid-Afrikaanse terme pypkarre genoem word.
“Dit is my tweede Dakar wat ek op Marek Goczal en sy navigator Rafal Marton se Rotex 1 000cc turbo Can-Am kar werk.
“Weens die baie reën en nat sand moes die karre baie harder werk om greep te kry. So, die slytasie was baie hoër. Veral die side shafts, cv joints en diffs het baie gebreek.
“Goczal het in een van die skofte verkeerd gery, omgedraai en toe kop-teen-kop gebots met een van die ander deelnemers. Die impak het die onderstel 30-millimeter geskuif en dit was harde werk om die kar weer reg te kry.”
SA bou 58% van topkarre se onderstelle
Paul sê sowat 58% van die topkarre in die topklasse se onderstelle en raamwerke word in Suid-Afrika gebou. So is vanjaar se Dakar-wenner, Nasser al-Attiyah, se Toyota Gazoo Racing Hilux T1+ ook in Suid-Afrika gebou.
Vir Paul is ‘n droom bewaarheid om in een van die T5 trokke te kon ry. “Die krag is onbeskryflik. Al word hulle op 160km/h ingeperk, is hulle in ‘n oogwink op daardie spoed.”
Vir deelnemers aan die Original by Motul-klas soos die Suid-Afrikaanse motorfietsryer Kirsten Landman, wat die enigste vroulike deelnemer in die klas was, het Paul baie respek. Dié klas is voorheen “Malle Moto” genoem omdat dit “gek” is wat hierdie deelnemers moet vermag.
“Dit is die moeilikste klas in Dakar. Daardie jaers het nie tegniese bystand tydens die tydren nie en moet self hulle motorfietse herstel. Jy moet murg in jou pype hê en baie fiks wees om 500km in die woestyn op ‘n motorfiets te jaag. En dan nog 500km verder te moet ry na die volgende stage.”
DP leerders dalk ook na Dakar
Buiten dat Paul sy kennis en ervaring met leerders deel, het hy kennis gemaak met ‘n onderdele-vervaardiger in Suid-Afrika, wat in jong motorsport-entoesiaste se loopbane wil belê.
“Die kanse is daar dat van ons leerders met ‘n passie vir motorsport volgende jaar se Dakar kan bywoon. Dit is ‘n geleentheid van ‘n leeftyd wat nie moontlik sou wees as ons skool nie motorsport aangebied het nie,” sê Paul.
Hy sê sy sêding in die klas is altyd, “As jy met jou hande kan werk, en jy wil werk, is daar altyd werk.”
Wat sy toekomsplanne betref, sê Paul hy het vir hom ‘n mikpunt gestel van ‘n minimum van vyf Dakars. Daar is ook vanjaar die geleentheid dat hy in Mexiko by ‘n veldtydren kan gaan werk.
“En as die geleentheid kom, gaan ek dit aangryp. Ek het die ondervinding en ek is mal oor uitdagings,” sê Paul.
Gaan hy self eendag agter die stuur inskuif?
“Ek sou baie graag wou, maar dit kos ‘n drywer sowat 2.5 miljoen Euro om in te skryf.”
So, Paul en spanmaat en mede-onderwyser Francois Vermaak sal eerder plaaslik weer in vanjaar se Algoa Rally Club veldwedrenne te sien wees.





