HTS Daniel Pienaar was bevoorreg om onlangs die klas van 1965 by die skool te ontvang.
Frans Schellingerhout, die sameroeper, berig dat die groep die sewende matriekgroep van die skool was. Hulle was sestien in die klas, waarvan vier van die jaargroep oorlede is.
“Ons probeer nog steeds om drie van ons jaargroep op te spoor,” se Schellingerhout.
Tydens die samekoms het die oudleerders saam met onderwysers en die beheerliggaamvoorsitter, Nico Schmidt gekuier, die aand in Koshuis Saaiman oornag en na ontbyt die volgende oggend vertrek.
Kola du Toit, skoolhoof, het by hierdie geleentheid kosbare argiefstukke van die jaargroep ontvang. Sy was veral geraak deur ‘n eenvoudige handgemaakte papierroset vir sportbyeenkomste wat na al die jare behoue gebly het.
“Dit is ‘n riem onder die hart as daar ‘n entoesiastiese sameroeper is wat sorg dat sy jaargroep kontak met mekaar en met DP behou.
“Oudskoliere sal altyd met ope arms by die skool ontvang word,” sê Du Toit.
HTS Daniel Pienaar is die oudste tegniese skool in Suid-Afrika (126 jaar oud).
“Ons is trots om te sien watter spore oud-Tiere in die lewe getrap het. Hierdie klas van 1965 het onder andere ambagsmanne, ingenieurs, ‘n ereveldwagter, en ‘n Wiskundeprofessor ingesluit. Die sukses van DP se manne bevestig die skool se leuse,” Volkome Toegerus”,” se Du Toit.




