Sport

Paul Ludeke (regs) en Warren Naude in een van die Dakar Rally diensparke in Saoedi Arabië. Fotos: VERSKAF

PAUL Ludeke is vir seker die enigste onderwyser in Suid-Afrika wat sy Desember-vakansie moes kortknip om in Dubai te gaan aanmeld om by die Dakar Rally in Saoedi-Arabië te gaan werk.

Dié kans het oor sy pad gekom danksy die uitstekende ondervinding wat hy by Volkswagen Motorsport van 2006 tot 2015 opgedoen het.

“Elke jaar maak ek ‘n grap en vra my vriend Warren Naude, wat al vir jare by Dakar as motortegnikus werk, of ek my paspoort moet regkry… en wraggies daar bel hy my in Desember uit Dubai en vra of ek reg is om by die 2021 Dakar te kom werk!”

kategorie

Paul was in die wolke oor dié oproep en enkele dae later was hy in die lug op pad na Dubai waar hy by South Racing aangesluit het om vir 12 dae as motortegnikus aan die nuwe kategorie superligte T4- veldwedrenmotors te werk.

“Die nuwe kategorie drie silinder turbokarre lyk baie soos die Sandmasters of ou pypkarre soos ons dit noem. Dit is die mees bekostigbare karre wat die minste onderhoud verg waarin daar aan die Dakar deelgeneem kan word. Die karre het ongelooflike potensiaal en ek dink dié kategorie gaan nog baie gewild word.”

Hierdie T4’s se meganika is baie vereenvoudig, sê Paul. “ Ek kan met ’n klein toolbox die hele kar regmaak. Jy het letterlik ‘n 18 en 19 spanner, ’n paar L-keys en torque wrenches nodig. Jy kan die hele suspensie in ’n uur se tyd vervang!”

Paul Ludeke (regs) besig met een van South Racing se T4-karre.

Dié T4-karre se onderstelle word in Suid-Afrika vervaardig.

Die South Racing-span was die grootste span by vanjaar se Dakar en het 12 van die Can-Am T4-karre in die kompetisie gehad.

“Ek het op Saeed Almari en Sergio Lafuente se kar gewerk, maar wanneer jy klaar is, help jy ander waar jy kan. Ons het deur die nag gewerk en in die dag na die volgende dienspunt gery. Ons verste rit in die trok na ’n volgende dienspunt was 890km teen 90km/h.”

Paul sê as hy aan die Dakar kon deelneem, sou hy verkies om in die trok-kategorie deel te neem. “Daardie brute krag is die ultimate. Ek kan nie beskryf hoe dit voel as daardie trokke by jou verby gery kom nie . . . ek kry hoendervleis.”

’n Hoogtepunt was om Nasser Al-Attiyah te ontmoet. “Dit was awesome. Hy is ’n absolute fenomeen en legende. Voor elke skof ontspan en drink hy tee in sy eie tent. Ek het die voorreg gehad om saam met hom tee te drink!”

Min slaap en woestynkoue

“Ek het saam met ’n Portugese span gewerk en ons het in Engels gekommunikeer. Maar as ek in Afrikaans vloek het hulle my verstaan. ’n Mens raak moeg want jy slaap verskriklik min, so gemiddeld drie ure per nag en op die laaste skof het ek net 43 minute slaaptyd gehad. Die min slaap was die ergste van die hele Dakar!”

Die uiterste woestyntemperature is ’n ander saak waaraan Paul gewoond moes raak. “Ek het gedink Warren oordryf toe hy sê ek moet ’n ordentlike slaapsak kry wat minus 12 grade kan hanteer. Dit was eenvoudig te duur, maar noudat ek weet hoe verskriklik koud dit daar raak, sal ek beslis een gaan koop voordat ek weer Dakar toe gaan.”

Paul Ludeke by Henk Lategan.

Nog emmerskop uitdagings

Paul sê hy dink sy kanse om by Dakar 2022 te gaan werk, lyk goed – veral omdat Suid- Afrikaners gewoond is aan harde werk en ’n goeie rekord daarvoor het by Dakar.

“As jou naam op is en jy het jou kant gebring, is die kanse baie goed dat jy weer sal gaan. Daarom sê ek altyd vir die skoolkinders, ‘as jy met jou hande kan werk, en jy wil werk, is daar altyd werk. Kyk watter deure het my wil om te werk, vir my oopgemaak.”

Dakar was op Paul se emmerskoplys, en die volgende een is nou om die asemrowende Isle of Man Tourist Trophy, wat as die motorfiets Nirvana beskou word, te gaan kyk.

Intussen het Paul besluit om vanjaar as navigator saam met kollega Francois Vermaak aan die Algoa Rally Club se wedrenne deel te neem. Hul eerste kragmeting is einde Maart.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article