VIER atlete van HTS Daniel Pienaar is ingesluit in die OP-atletiekspan wat aan die ASA-atletiek kampioenskappe vanaf 7 tot 10 April in die Paarl deelgeneem het.
In die o.16-seuns kategorie het die volgende atlete deelgeneem: Marko Ferreira (14 jaar) 200 m en 400 m; Marzanno Seekoei (15 jaar) 400 m en verspring; Elandré Beauzec (15 jaar) gewigstoot en diskus.
In die o.18-seuns kategorie het Wernich van Rensburg (17 jaar) aan die 400 m hekkies deelgeneem.
Vir die eerste keer in baie jare van die skool se geskiedenis, behaal twee leerders medaljes by hierdie jaarlikse nasionale kampioenskappe. Wernich behaal ’n tweede plek en ontvang ’n silwer-medalje in die 400m hekkies met ’n persoonlike beste tyd van 52.69s, terwyl Marzanno tweede eindig en ook ’n silwer medalje ontvang met sy puik afstand van 6.60m in verspring.
Wernich word afgerig deur die legendariese Karel Gerber van die Karel Gerber Atletiek-akademie.
Marzanno en Marko word afgerig deur die voormalige SA junior kampioen in 400m, Yolande Vosloo (néé Neethling) en haar man, voormalige SA junior driesprong kampioen en onderwyser by DP, Kobus Vosloo.
Elandré word afgerig deur Edward Brown van die Edda’s Throwers Gooie-akademie.




