“As ek lus vir musiekmaak, het ek nie ’n idee wat kom nie. Maar as ek met die beats begin, dán kom die songs. Dit is complicated en uniek, ek lief dié musiekgoed.”
Só sê DJ Ranie (Sherano Jacobs) wat saam met Zee The DJ (Shihann Human) geskiedenis gemaak het toe hulle die eerste DJ’s van Kariega geword het in die onlangse Splash Festival DJ-kompetisie onderskeidelik eerste en tweede gekom het.
Altesaam 65 DJ’s van regoor die Nelson Mandelabaai het deelgeneem. Die uitdunne is oor vier weke by White Tiger in Gqeberha gehou en in die finaal was daar ses DJ’s. Die twee Karieganaars, Zee The DJ en DJ Ranie was uiteindelik onderskeidelik wenner en naaswenner van die gewilde DJ-kompetisie.
“Hierdie jaar was daar die meeste deelnemers en dit was baie kompeterend. Daarom is ons trots om te sê ons het history gemaak. Hier is groot DJ name op Kariega wat nog nooit die Splash gewen het nie, ons is die eerstes,” sê Zee The DJ.
“Elke DJ kry drie minute en die beoordelaars kyk dan hoeveel songs kan jy DJ in daardie tyd. Daar is ook ’n mixer met effects en hulle kyk hoe jy die effects gebruik en jou skills om verskillende songs te mix.”
Volgens DJ Ranie moes hulle hul musiek vir die Splash DJ-kompetisie baie goed kies. “Dit moes skoon versions wees met geen vloekwoorde in die lirieke nie.”
Zee The DJ sê die genres waarvan hy hou en waarmee hy die kompetisie gewen het, is hip-hop en R&B wat hy met eg Suid-Afrikaanse genres soos amapiano, Gqom en Afrotech gemeng het.
DJ Ranie sê sy groot liefde is die nuwe eg-Suid-Afrikaanse genre, amapiano. Hy het verlede jaar die voorreg geniet om saam met DJ Maphorisa amapiano songs te maak. Dié genre is deur Kabza De Small begin.
DJ Ranie sê “die lekkerste is om te sien hoe mense jou musiek geniet. Dan neem die ritme in jou oor en kom die een na die ander song. Dit is my happy moment.”
Beide DJ’s het kontantpryse gewen waarmee hulle nuwe musiektoerusing gaan koop. DJ Ranie neem tans aan die gesogte Viceroy Makoya Mix DJ Competition deel, waarvan die finale Saterdag, 22 April, by The Gallery on Produce in Suideinde gehou word. Die wenprys is DJ-toerusting ter waarde van R75 000.
Alhoewel DJ Ranie en Zee The DJ aanvanklik afsonderlik opgetree het, het hul uitstekende optredes by die Splash Festival DJ-kompetisie vir hulle nuwe deure oopgemaak en tree hulle nou saam op.
“Ons moet nog besluit op ’n naam vir ons twee saam. Dit sal waarskynlik deep Invazion wees,” sê Zee The DJ.
DJ Ranie en Zee The DJ kan op Faceboek geboek word vir DJ by funksies.




