Rose Trosee, mede-eienaar van EC Sand & Stone op Despatch is moedeloos oor al die inbrake.

Foto: Heilie Combrinck

In die 14 jaar wat EC Sand & Stone in Despatch se hoofstraat besigheid doen is dit die eerste keer dat diewe herhaaldelik by die kantoor inbreek en dit leeg steel.

Rose Trosee, mede-eienaar van EC Sand & Stone sê, “Daar is voorheen hier ingebreek en die diewe is gevang, maar wat die afgelope tyd gebeur is buite beheer.

“So paar weke gelede is daar op ‘n Vrydagaand ingebreek. Toe wéér Saterdag- of Sondagaand en so wragtig breek hulle die Maandagaand weer in. Jy sal nie glo nie, ‘n week later, weer op ‘n Maandagaand, breek hulle vir die vierde keer in!

“Die tweede keer dat hulle ingebreek het, het hulle die kabinet gesluit en die sleutel gevat. Toe hulle die derde keer terugkom, het hulle die sleutel terug in die kabinet gesit.”

Trosee sê dat daar geen geld in die kantoor was nie en dat die diewe elektrieseware, skryfbehoeftes, en kruideniersware gesteel het en oral geurineer en broek losgemaak het.

Die koperpype agter die yskas sowel as die kragdrade in die dak is ook uitgeruk.

“Ons het die inbrake by die polisie aangemeld en daar is vingerafdrukke gekry.

“Ons het ‘n sterk vermoede wie agter die inbrake sit en hoop geregtigheid sal geskied.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article