Het ‘n engel al oor jou pad gekom? Daardie oënskynlike gewone mens, maar daar is iets anders aan dié mens. Iets onbeskryfliks. Iets wat by jou bly en rusplek in jou siel kry.
“Ek glo van kleins af daar is engele wat jou lewenspad kruis. Dis hoekom ek so mal was oor City of Angels. Dit is nou wel Hollywood, maar ek het baie in my lewe die teenwoordigheid van ‘n engel ervaar,” sê Jan Vermeulen, die bekroonde skrywer in wie se nuutste jeugboek engele ‘n groot rol speel.
Hy vertel dié boek, “Hoeveel Tande het ‘n Engel?” het gestalte gekry nadat Luca, ‘n Christelike uitgewer in Lapa en Penguin Random House se stal, hom gevra het om ‘n geestelike jeugfiksieboek te skryf.
“Ek wou nie ‘n storie met ‘n Christelike sousie daaroor, of wat te prekerig of te morbied is, skryf nie. Daar moet ‘n spanningslyn wees en in my bediening het ek geleer jongmense se grootste vrees is hul eie dood. Toe besluit ek om jongmense met die moontlikheid van hul eie dood te konfronteer.
Engel-inspirasie
“Kanker is wêreldwyd die grootste oorsaak van kindersterftes. Hier op Despatch was daar die hartseer verhaal van die sestienjarige Martin Crouse wat in 2013 met beenkanker gediagnoseer is en vier jaar later gesterf het.”
Die boek is nie Martin se storie nie, maar met die hulp van sy ouers André en Elmarie, kon Vermeulen die belewinge, prosesse van kankerbehandeling en emosies lewensgetrou inskryf in die storielyn. Dit was veral die gesin, pa, ma en twee broers se deurentydse ervaringe met die engele wêreld, en selfs met tye nou nog, wat Vermeulen geraak het en daarom is die boek aan Martin opgedra.
Die storie speel af oor ‘n tydperk van drie weke en gaan oor twee tieners wat albei kanker het, hul vrese en hoe hulle mekaar bemoedig. Die een ‘n gelowige en die ander een is nie ‘n ‘kerksmens’ nie. Natuurlik is daar ook tienerliefde.
“Die karakters vra wat is engele, is dit geeste of ouens met vlerke? In die Bybel vertel Abraham hoe hy op ‘n stadium engele kos gegee het sonder dat hy geweet het dit was engele. Toe werk ek met die idee van mense wat engele in jou lewe is. Hulle eet, so dan moet engele tande hê, maar hoeveel tande?
“Dit gaan oor menslike ondersteuning en ook die bo-natuurlike ondersteuning. En dit is waar die titel vandaan kom,” verduidelik Vermeulen.
Hy vertel van sy eie aangrypende ervaring met ‘n engel op Despatch en hoe hy dié belewing ook subtiel in die storie ingeskryf het.
“Die storie lê my na aan die hart oor my belewing met ‘n engel en omdat ek Martin ‘n keer of wat ontmoet het voor sy dood. Beide ervaringe het ek deel van die storie gemaak.”
Die boek is dig verweef met uiteenlopende emosies en hoewel jongmense die hoofkarakters is, is dit ‘n lewensstorie wat ook vir volwasse lesers geskik is.
“Wat vir my lekker is om vir Luca te skryf, is dat ek my twee wêrelde kan kombineer en teologie in die storielyne kan inskryf sonder om prekerig te raak. Soos my dogter vir ‘n vriendin oor my jeugroman Asem gesê het, ‘die boek gaan nie oor die Here nie, maar die Here is in die boek’.
“Skryf is vir my amper soos verslawing. Ek kan nie ophou nie. As ek in ‘n dag nie geskryf het nie, dan voel dit vir my die lewe het by my verbygegaan,” sê Vermeulen.
Vermeulen, ‘n predikant van Despatch, is ‘n veelsydige skrywer met verskeie boektitels in verskillende genres agter sy naam. Hy skryf misdaadfiksie, jeugromans, nie-fiksie sowel as geestelike boeke.
“Hoeveel Tande het ‘n Engel?” is beskikbaar by Bargain Books in Corkwood Square op Kariega.




