Miskien moes die vervaardigers van die aksiebelaaide nuwe Top Gun: Maverick, dele van dié fliek eerder in die Karoo kom skiet het!
Dan kon hulle as deel van die fliek se spoed- en kragvrate soos die supersoniese F18 Super Hornet vegvliegtuig, die galante ou P-51 Mustang, die blitsvinnige Kawasaki Ninja H2 Carbon motorfiets, sommer ook Volkswagen se Kariega-vervaardigde nuwe kragbuks, die VW Polo GTI ingespan het.
Veral een van die Polo-kragbukse in die King’s Red metaalkleur. Want dié rooi weerspieël die sensasie van die turbo-aangejaagde viersilinder. Ook die tikkie rooi wat selektief en elegant in die binneruim pronk, dui aan hierdie is ‘n allemintige vat-nie-nonsens-nie ryding.

Rooi blits deur ’n oerlandskap
Agter die stuur van dié 2.0 TSI met sy 6-spoed DSG dubbelkoppelaarratkas, voel die reguit, lang pad deur ‘n uitgestrekte oerlandskap na Graaff Reinet kompleet soos ‘n aanloopbaan.
Veral wanneer die 147kW enjin met ‘n wringkrag van 320Nm onder daar-die beneukte Polo-enjinkap begin grom van genot. Dan sien ek in my geestesoog tonele uit die fliek. En ek hoor die befaamde aanhaling van die hoofkarakter gespeel deur Tom Cruise: “I feel the need … the need for speed.”
Vallei van Verlatenheid
Anderkant Graaff-Reinet, met die kronkel-bergpas op na Die Vallei van Verlatenheid, ‘n wêreld geologiese wonder, ry die Polo GTI met absolute padklouvermoë en gemak teen die steiltes uit. Dit is presies daar waar ‘n mens die P-51 Mustang teen skemer sou wou sien in ‘n verbyvlug met die uitgestrekte Karoo as toneel in die agtergrond.
Die nuwe VW Polo GTI spog met ‘n hele paar visuele opknappings sowel as nuwe ligte, bekleedsels, intelligente stelsels en van die nuutste tegnologie met die Discover Media infovermaak se klank- en skermsisteme.
Inderdaad laat dié VW Polo GTI ‘n mens saam met Kenny Loggins se Danger Zone sing: “… revvin’ up your engine … listen to her howlin’ roar. Metal under tension … beggin’ you to touch and go!”
Nog ’n paar spesifikasies:
- Standaardprys R489 400
- 0 – 100km/h in 6.7 sekondes
- Topspoed: 238 km/h
- Gekombineerde brandstofverbruik 6.4 liter/100km
- 18-duim Faro allooiwiele
- Parkeergerief (sleutellose oopsluit, parkeerbystand en tru-kamera



