ELKE dag wat Jan Opperman werk toe gery het, het die blondekop meisie van Vrede-straat, sy kop laat draai. Vir ses maande het hy hom verkyk aan dié pragtige vrou en oor haar gewonder, tot op die dag toe die geluksgodin ingetree het.
Op dié dag is hy gevra om iemand op die Uitenhage-stasie in sy 1937 tweesitplek Chevvy te gaan oplaai.
“Dit was toe my blondekop meisie!”
Op 1 April 1950 het hulle hul ewige trou aan mekaar beloof en gister dié dag herdenk.
Vandag, 70 jaar later, is Jan (93) en sy Susan (89) steeds dolverlief en vertel stralend van hul eerste afspraak, koeldrank op die stoep van Uitenhage se destydse Royal Hotel.
Daarna het hulle in die Plaza-bioskoop weekliks op sitplekke AA14 en AA15 na die nuutste flieks gaan kyk.
Die res is ’n verhaal van geloof, hoop, respek en liefde.
Lyk altyd mooi vir mekaar
Jan sê hy is steeds mal oor daardie blondekop meisie van Vredestraat, wie se 90ste verjaardag op 10 Mei gevier gaan word.
“Ek kan nie sonder haar lewe nie. As ek hier in die huis is en dit is stil, dan wonder ek waar is Susan en dan gaan soek ek haar.”
Oor die resep vir so ’n lang geseënde liefdevolle huwelik sê Susan: “Dit is genade van die Here. Ons sê elke dag, die Here is ons Herder, niks sal ons ontbreek nie. Dit is alles genade van Hom dat ons gesond is.
“Oumenskwale het ons, maar dit is onder beheer. Ons leef naby aan die Here en glo aan tekens wat Hy oor ons pad bring.”
Die Opperman-egpaar glo ook aan wedersydse respek en onvoorwaardelike liefde.
“Ons moet elke dag reg aangetrek wees en mooi lyk vir mekaar. Ons kyk na mekaar. Hy moet kan trots wees op my en ek op hom,” sê Susan.
“Ons huisdokter, Dr. Doubell, het eendag vir my gesê, ‘Jan is altyd so netjies en deur ’n ring getrek, sy klere pas so mooi byme- kaar, wie kies dit?’ Toe sê ek ons koop klere saam. Hy pas aan en ek kyk hoe lyk hy en as ek iets aanpas, dan moet hy kyk of dit mooi is.”
Mooi lyk is steeds vir Susan ononderhandelbaar. Vir 70 jaar het sy elke Vrydag haar hare by Leonie Blignaut op Despatch laat doen. Dié haarkapper, wat einde verlede jaar afgetree het, was toe 17 jaar oud en Susan 19 toe dié jarelange afspraak begin het.
Jan, wat op 10 Junie 94 word sê, “Ek is ’n perfeksionis. Ek hou daarvan dat dinge reg moet wees.”
Kosmaak en reise
Susan sê vir 30 jaar het sy nooit in die kombuis gekom nie. Dit was Kate, hul inwonende huishulp wat saam met Jan grootgeword het, se heiligdom. Nadat Kate oorlede is en Jan afgetree het uit die Suid-Afrikaanse Spoorwee, het hy die kombuis betree en Susan be-derf met kos wat hy gemaak het.
“Toe ek aftree, kry Jan eweskielik ronde handjies. Toe moes ek begin kosmaak. Kyk, ek is nie ’n koekbakster of huisvrou nie. Die kombuis is nie vir my nie, ek hou van organize en is ’n kantoormens,” sê Susan wat al die jare by Cape of Good Hope Wool Combers gewerk het.
“Partykeer weet ek regtig nie wat om te maak nie, dan sê Jan egg on toast sal lekker wees.”
Haar liefde vir sosialisering en organise-ring het die Oppermans die voorreg laat geniet om menige oorsese reise aan te pak.
Gesondheid
Jan en Susan is nog blakend gesond. Hy woeker gereeld in die tuin en Susan hou haar besig in die huis en lees graag.
“Ons is aan-die-gang en op-en-wakker. Al bril wat ek dra is ’n sonbril. Ek drink elke dag my kankerbossietee en Jan sy Centrum-vitamienpille.
“Dit is net die doofheid wat so bietjie pla, maar ons het geleer om na mekaar toe te praat anders praat ons by mekaar verby.”
Die egpaar is die trotse ouers van twee kinders, Sandra Venter en Francois Opperman, grootouers van vier kleinkinders en oorgrootouers van twee agterkleinkinders.




