DIE dag toe die “Kaktuskoning van Despatch” in “Anton Kaktus” se vetplant-oerwoud op Graaff-Reinet verdwaal, het hy besef daar steek veel meer in dié plante as hul dorings en waterslimheid.
Sedert dié dag het Theaan le Roux se passie vir die wonderwêreld van vetplante en kaktusse bly groei en groei. As daar ’n spesie is met gepaste en beskrywende volksname, dan is dit vetplante: bokspoortjie, perdetande, tierbek-vygie, beeskloutjie, babatoontjies en pappe- gaaibekkie. En dié plantname verskil van streek tot streek waar dit voorkom.
Theaan ken al dié interessante name plus hul botaniese name, ook elke plant se unieke eienskappe asof dit deel van sy familie is.
Hy en sy vrou Ursula bedryf Die Agterplaas, ’n koffiekuierplek propvol plaaslik gemaakte produkte, sowel as ’n plante-afdeling waar Theaan derduisende vetplante en kaktusse kweek. Hier sien die besoeker ook die stadig-groeiende vetplante wat moeilik ontkiem.
“As beginner plant ’n mens ’n gebied vol van alle soorte vetplante en kaktusse wat jy in die hande kan kry. Ek was daar, maar nou is ek aan die onderpunt van die tregter en fokus op eksotiese skaars soorte, die byna onbekombares, vreemdsoortiges en daardie plante wat ’n uitdaging is om te kweek,” sê Theaan.
Skaars en ou vetplante
Theaan se eie wonderwêreld by Die Agterplaas is vol unieke plante van regoor die wêreld waarvan sommige plantjies meer as 100 jaar oud is. Daar is selfs een van die wêreld se skaarste kaktusse én … ’n baie skaars vetplantjie wat net op Despatch groei!
Theaan beduie na ’n klomp vetplante, “Hierdie is my Richtersveld-versameling, van dié volwasse plantjies se wortelgroei is slegs 10mm.”
Van die plantjies lyk of hulle dood is. “Nee, hulle rus en is in ’n dormante fase want hulle groei nie in die somer nie.”
Theaan sê as dit by die natmaak van sy plante kom is hy die gieter, en dit is kop- en boekhou, want elke spesie het sy eiesoortige dors.
“Hier is plantjies wat net twee keer per jaar water kry. Van die plante groei net 3mm per jaar in ’n goeie habitat. Ander klein plantjies beskik oor die vermoë om hul saadjies etlike meters ver te skiet.
“Ek het soveel respek vir hierdie plante, want uit klipskeure moet ’n piepklein saadjie ontkiem en groei voor hy lig sien en dit teen ’n geweldige stadige pas.”
Theaan loop na ’n ander deel waar uitheemse, skaars, plante wat onder meer uit Madagaskar, Israel en Somalië kom.
“Hier staan ons nou voor die wêreld se skaarste vetplante en dit is die Pseudolithos Migiurtinos, wat net drie keer per jaar ’n bietjie water kry en ’n slegte reuk het.
“Dié plant, ook bekend as die valsklip, kom uit Somalië en is so skaars omdat dit groei in die gebiede waar landmyne – die meeste nog aktief – geplant is.”
Wanneer dit by die bestuiwing kom, laat Theaan die natuur sy gang gaan.
“As die wind waai, word die klein ou blommetjie so bietjie gekielie en dit lok muggies. Ek gebruik nie ’n kathaar of gemsbokhaar nie, ook nie die fynste grimeerkwassie nie, ek laat die natuur in om sy werk te doen.”
Is dit ’n kaktus of vetplant?
Die hoofsaaklike verskille tussen kaktusse en vetplante is dat kaktusse uitheems is, nie blare het nie, maar dorings en heeldag in die son kan staan. Vetplante is doringloos, inheems en wil nie heeldag direk in die son staan nie, dit het ’n bietjie skaduwee nodig.
In Die Agterplaas se tuin is daar verskeie medisinale kaktusse uit die suide van die Amerikas soos die skaars Epithelantha bokeii en Lophophore williamsii Cardone Peyote.
“Hierdie plante is vir duisende jare deur inheemse volke gebruik vir hul medisinale waardes. Vandag gaan mense aan oor Cannabis, maar dit is niks in vergelyking met die meskalien wat in die Peyote voorkom nie.”
Maar vir Theaan is dit veral die Astrophytum kaktussies, in volksmond bekend as seepampoentjies, waarin hy wil spesialiseer omdat dit so moeilik is om hulle aan die groei te kry.
Van stokperdjie tot stewige versameling
Ursula sê haar liefde vir die waterslim staatmaker-plantjies sonder fiemies is ’n geval van “if you can’t beat them join them … toe ek Theaan ontmoet, het ek geweet van woestyn-rosies en dat kaktusse dorings het, maar het nie ’n clue gehad wat se wonderwêreld dit eintlik is nie. Sy passie vir vetplante en kaktusse is aansteeklik en ek het al meer begin leer.”
Die Le Roux’s het eers plantjies by markte verkoop, maar die stokperdjie het eenvoudig te groot en gespesialiseerd geword. Tot so ’n mate dat Ursula haar permanente werk opgegee het om voltyds by Die Agterplaas en kwekery betrokke te wees.
“Mense dink vetplante is maklike plante, maar dit is nie waar nie, jy moet navorsing doen, elke plant is uniek en groei in eiesoortige omstandighede. Elkeen blom verskillend, baie blom in die winter, ander in die somer en sommiges net in die aand omdat dit woestynplante is. Hulle maak die mooiste blomme (nie vir pluk nie) en dit hou gewoonlik so drie dae.
“Meeste van hierdie plante is baie stadige groeiers en daarom verstaan mense nie altyd die waarde van die plante nie. Ons fokus is veral op die versamelaarmark en ons versend plante regoor die land,” sê Ursula.
Die Le Roux’s is ook in samewerking met natuurbewaring en boere in die Williston- distrik betrokke by ’n projek om plante wat bedreig word, se saad te oes sodat dit ontkiem kan word vir hervestiging.
- Die Agterplaas is by Cloetestraat 6, Despatch en hul volgende aandmark is op Vrydag, 5 Maart. Vir meer inligting bel Ursula by 079 770 2477 of epos: tierlantyntjies@yahoo.com


