In ‘n eerste vir Algoa Rally Club is die Triple “L” Plant Despatch Rally in en om Despatch gehou. Die goeie deelnemergetalle, groot getal toeskouers en die algehele ondersteuning uit dié dorp vir die aksiebelaaide motorsport, het die terugkeer van die tydren in 2023 verseker.
“Ons absolute dank aan Despatchers vir hulle ongelooflike ondersteuning van ons eerste tydren wat op dié dorp aangebied is,” sê Rikus Fourie, voorsitter van die Algoa Rally Club.
Fourie was oorweldig deur die goeie opkoms van toeskouers en ondersteuners van plaaslike motorsport. Tydren stadiums is gehou by Innibos Lapa, op Jachtvlakte en op die dorp oorkant Despatch SuperSpar.
“Dit was absoluut merkwaardig. Dit is weereens ‘n bewys van die honger wat mense het vir hierdie soort motorsport. Dit was ‘n massiewe sukses wat te danke is aan die lojaliteit van betrokkenes asook die publiek en plaaslike besighede se bydraes en ondersteuning.
“’n Groot dankie ook aan al die borge, nooddiensspan, vrywilligers en baanbeamptes vir hulle belangrike rolle vervul op die dag.
“Vir tydren-deelnemers was dit ‘n uitmergelende tydren. Maar hulle het die verskillende tydren stadiums baie geniet. ‘n Groot aantal deelnemers het ongelukkig uitgeval – nie weens die toestand van die pad nie, maar weens meganiese probleme wat hulle met hul motors ondervind het.”
Johnnie Johnson en sy seun James Johnson het die Triple “L” Plant Despatch Rally in hul VW Polo gewen met ‘n skamele 0.5 sekondes voor Oliver de Man en Ingrid Jeacocks in hul Toyota Conquest. In die derde plek was Frits Myburgh en sy vrou Elmarie in ‘n Toyota Yaris.
“Dit was ‘n groot dag vir dié nuwelinge op die podium. Hierdie tydren was weereens ‘n bewys hoekom dié sport se gewildheid so hoog is, want dit is nie altyd die vinnige perd wat die resies wen nie. Dit gaan oor bestendigheid, kophou en uithou … vir solank jou voertuig hou.
“Nog nuwelinge wat ‘n goeie tydren geniet het, is Juandré Marais en Ottie Marais, beide oudleerders van HTS Daniel Pienaar, wat met hul debut aan dié tydren algeheel vyfde geëindig het. In die vierde plek was Herman Bernhardt en JP Smit uit die Despatch-geledere met hulle Ford Escort (Geel Piesang),” sê Fourie.
Ongelukkig gaan Algoa Rally Club nie hierdie jaar weer ‘n kans kry om in en om Despatch te jaag nie. Maar volgens Fourie, is die sukses van hierdie afgelope ronde “beslis ‘n motivering vir die klub om volgende jaar wéér so te maak.”




