Boertjie Nell met een van sy duiwe.Foto:HEILIE COMBRINCK


DIT is ’n ingebore aanvoeling vir Boertjie Nell van Despatch om ’n goeie wedvlugduif tussen ander duiwe uit te ken. Dié aanvoeling het hom al menige kampioenduiwe laat oplewer.

“Ek weet nie wat dit is nie, maar wanneer ek ’n goeie duif sien, kry ek so ’n gevoel oor die duif in my, wat die meeste van die tyd reg is. Dit is maar iets waarmee ek grootgeword het, want voëlboerdery was vir generasies deel van ons familie,” sê Boertjie wat vanjaar vir die 14de agtereenvolgende jaar as die wedvlugkampioen van Despatch Posduifklub aangewys is.

Hy was ook verskeie kere die UD Federasie sowel OP Posduifunie se kampioen. Dit is egter nie net plaaslik waar Boertjie se duiwe met vlieënde vaandels presteer nie, maar ook by internasionale wedvlugte soos die gesogte internasionale Sun City Miljoen Dollar wedvlug. Hier het Boertjie se duiwe hom al ’n vierde algehele plek besorg en verlede jaar was sy duif die eerste Suid-Afrikaanse duif wat ingeklok het.

Boertjie het nou ook sy duiwe ingeskryf vir ’n internasionale duiwewedvlug wat by die Victoria-watervalle gehou gaan word.

“Ek was maar vier jaar oud toe ek my eerste duif in my pa se hoenderhok gevang het,” vertel Boertjie. “Dit was die begin van my en my duiwe. Van toe af was ek nog nooit sonder ’n duif nie – ek is ’n selferkende duiweverslaafde.”

Op skool was Boertjie ’n rugby-speler, maar hy het die wintersport opgegee om voltyds duiwe te vlieg. Somertyd het hy as kranige atleet wel aan landloop deelge-neem, want in die somer rus en verveer duiwe, gevolglik is daar geen duiwewedvlugte nie.

“Dit was nog altyd vir my ’n uitdaging dat my duiwe goed moet vlieg. En om dit reg te kry, is teling die belangrikste. Jy moet die regte teelpare hê om goeie duiwe op te lewer.”

Boertjie werk vir dae in sy kop uit watter mannetjie en wyfie hy bymekaar gaan sit om wenners te teel. Dit word in duiwetaal “click mating” genoem.

“Die ideale teel-kombinasie is ’n mannetjie wat by verskeie wyfies wenners teel en ’n wyfie wat by verskillende mannetjies wenners teel. Maar om daarby uit te kom, is nie maklik nie en dit vat ’n hele paar seisoene.”

Boertjie se teel-kombinasies is wenners en dié duiwe staan in wedvlugkringe bekend as BoerNelle.

“Die BoerNelle gaan eintlik baie jare terug en kom uit die gesogte bloedlyn van die Belgiese Frans Patrick duiwe wat Piet Swanepoel reeds in 1962 gekoop het. Ek het by Piet en Michael Engelbrecht duiwe gekry en my eie teelproses voortgesit om uiteindelik by die BoerNelle uit te kom.”

Belgiese duiwe (Van de Wouwers) is volgens Boertjie van die beste in die wêreld. ’n Van de Wouwer-duif het onlangs 1.9 miljoen dollar op ’n veiling behaal. Die meeste van die Belgiese duiwe word deur Chinese gekoop.

As dit by duiwevoeding kom, glo Boertjie dat die regte kombinasie van sade ’n groot rol in wedvlugduiwe se prestasies speel. Die kombinasie het hy by ’n vriend gekry en dit bestaan uit sonneblomsade, ertjies, mielies en lêpille. Oral in die Nell-huishouding se tuin groei daar kruie. Boertjie droog dié kruie, laat dit trek in water en gee dit daarna vir die duiwe om te drink.

Die vliegseisoen is verby, nou is dit broeityd. “In teorie, nadat die duiwe gepaar het, lê ‘n wyfie sowat tien dae later haar eerste eier. ’n Eier word gewoonlik 48 uur voordat dit gelê word, bevrug. Wyfies lê gemiddeld twee eier-tjies, die eerste eier word gewoonlik teen 17:00 gelê en die tweede een ’n dag-en-’n-half later so teen 10:00 die oggend. Sewentien dae later broei die kuikens uit en 28 dae later word die kuikens na ’n groot hok geneem, want dan eet hulle al op hul eie. Op ses maande begin ons hulle vlieg.

“Wat ook interessant is, is dat wanneer ’n mannetjie en wyfie opgepaar het, jaag die mannetjie haar aanmekaar wanneer sy wil eet. Hy doen dit dat sy moet maer raak, want as sy vet is lê sy nie eiers nie.”

Volgens Boertjie vlieg die meeste duiweboere met wyfies.

“Mannetjies is lui en sit op die dak, maar as jy ’n goeie mannetjie kry, vlieg hy die ander weg. Duiwe vlieg gemiddeld so drie jaar, dan raak hulle te slim en gaan rus baie op pad terug.”

Wat ’n duif laat aanhou terugkeer hok toe, is nie seker nie, maar Boertjie het sy eie filosofie hieroor. “Niemand weet regtig nie, maar wat ek wel weet, is dat dit iets met die son te doen het. As ’n duif op ’n bewolkte dag gelos word, vlieg hulle baie langer om by die hok te kom. Magnetiese velde beïnvloed ook hul vliegpatrone, maar ek is nou nie ’n kenner hiervan nie.”

Hy het deur die jare agtergekom dat van die plekke waar duiwe onverklaarbaar nie weer terugkom hok toe nie, is as hulle by Paterson se rugbyveld en by Grahamstad gelos word. Blykbaar raak duiwe ook weg as hulle by Sishen gelos word.

“Ons kan dit nie verklaar nie en skryf dit toe aan die moontlike effek van magnetiese velde.”

Boertjie sê hy en sy vrou Lenie is baie lief vir reis en stap. Tog reël die duiwe eintlik hul lewe, want dit verg daagliks, twee keer per dag, se versorging. Maar Boertjie se duiwe-kennis en passie vir die sport is aansteeklik en het daartoe aanleiding gegee dat van sy bure ook met die duiwesport begin het. Só, daar is gelukkig ’n paar mense wat kan instaan om na die sowat 300 duiwe om te sien, die dag wanneer Boertjie en Lenie hulle vlerke wil sprei en die pad vat.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article