MET COVID-19 wat sy mense-tol eis, heers ’n ongekende krisis in Huis Najaar op Despatch met sy 70 senior inwoners.

Die afgelope twee weke was daar 13 sterfge-valle en 28 gevalle van inwoners en werkers wat positief getoets het vir COVID-19, aldus Frans Swanepoel, ondervoorsitter van die tehuis se beheerraad.

“Al die inwoners bly in isolasie in hul kamers. Dit is regtig baie moeilike omstandighede met almal wat getraumatiseerd is oor die sterfgevalle sowel as die vrees om positief te toets vir die virus.”

Swanepoel het sy dank uitgespreek teenoor die publiek, sakelui en plaaslike dokters wat die tehuis in die moeilike tyd help.

“Nico Eyre (Klinicare Despatch) in samewerking met die dokters het 75 pakkies met die nodige vitamienes en medisyne opgemaak wat aan die inwoners uitgedeel is. Al die werkers is ingeënt en ek moet sê, dit wil voorkom asof die entstof help.”

Die tehuis se nood is tans kos en finansies, veral omdat heelwat van die inwoners nie oor mediese fondse beskik nie; of nie die nodige medi-kasie kan bekostig nie.

“Ons vra die publiek om ons asseblief hiermee te help. Daar is veral ’n groot behoefte aan vars groente en vrugte. Geld kan in Klinicare Despatch se rekening inbetaal word.

“Dankie aan ons dokters en Klinicare Despatch vir medikasie wat verskaf word en selfs in sommige gevalle gratis gegee is. Dit is in ongekende krisistye soos wat ons nou beleef, dat ’n mens besef hoe ’n gemeenskap mekaar se ondersteuning nodig het,” sê Swanepoel.

Bankbesonderhede vir inbetalings aan Huis Najaar is as volg:

Klinicare Despatch

ABSA Bank

Rek no. 4077919961

Takkode. 632005

Verwysing: U naam en Huis Najaar.

– HEILIE COMBRINCK

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article