Kosie Smit, Top-onnie van die Jaar.

Foto: SOLIDARITEIT

’n Onderwyser van die Hoërskool Despatch, Kosie Smit, is uit 700 genomineerde onderwysers landwyd, deur Solidariteit se Onderwysgilde aangewys as die Onderwyser van die Jaar in die Hoërskool-afdeling.

“Die reaksie van die publiek om hierdie geleentheid aan te gryp en erkenning aan hulle onderwysers te gee, was oorweldigend. Dit is ’n goeie aanduiding van die waarde van onderwysers in ons gemeenskappe,” sê Anlia Archer, bedryfspesialis en organiseerder by Solidariteit se Onderrigsektor.

Smit is op Despatch gebore, waar hy ook gematrikuleer het en waar hy tans sy droom as departementshoof en onderwyser van Fisiese Wetenskap verwesenlik. Hy word deur sy leerlinge en kollegas as besonder passievol beskryf.

“Ek kan dit nie glo nie. Dit voel nog só onwerklik. Maar ek is dankbaar en ook hartseer,” sê Smit.

“Ek staan in die onderwys om ’n verskil in kinders se lewens te maak. Ek geniet dit die meeste om klas te gee. Nie net om feite aan die kinders oor te dra nie, maar ook lewenslesse, om aktiwiteite saam met hulle te ervaar.”

Skoolgemeenskappe is die geleentheid gegun om onderwysers vir die gesogte Onderwyser van die Jaar-toekenning te nomineer.

Nadat sowat 700 onderwysers hulle nominasies aanvaar het, is die top-40-kandidate aangewys waarna die publiek die geleentheid gegun is om vir hulle gunsteling onderwyser te stem.

Vanuit die sowat 10 000 stemme wat in hierdie ronde ontvang is, is die top-10-kandidate vir hoërskole en laerskole onderskeidelik aangewys, waarna die wenners in elke kategorie deur’n paneel kenners gekies is.

Carla Botha van die Laerskool Skuilkrans in Pretoria is aangewys as die wenner in die laerskool-afdeling.

‘Hoendervleis’ video

Volgens Smit se vrou, Adamina Smit, óók ’n onderwyser by die skool, het die paneel wat die besluit moes neem oor die wenner, genoem dat hulle almal hoendervleis gekry het toe hulle na Kosie Smit se video gekyk het.

“Hulle het gesê dat hulle almal dadelik geweet het, hulle het hul wenner. Die paneel het gesê ‘die passie en respek waarvan almal in die video melding gemaak het, kom net ‘n waardige wenner toe’”, sê Adamina.

“Soos een van die ander finaliste dan ook gesê het, ‘Ons salueer vanaand ’n legende in die onderwys. Daar is nooit end aan ’n legende nie, hy leef voort en sal altyd dit doen wat van hom ’n legende gemaak het.”

Volgens Archer dra onderwysers nie net kennis oor nie, “maar ook waardes en lewenslesse, sodat ons kinders beter toekoms kan hê.

“Hulle passie en die ywer waarmee hulle elke taak aanpak, raak die mense rondom hulle en inspireer hulle ook.”

Albei wenners het R10 000 kontantprys ontvang en R5 000 vir die betrokke skool om op projekte vir behoeftige leerders te spandeer.

Vir die opknap van die betrokke onderwyser se klaskamer het elke wenner R5 000 ontvang. Verdere R5 000-geskenbewys vir grafiese ontwerp asook ‘n R1 000-geskenkbewys vir drukwerk en R500 vir A2-fotoskilderboek was by die prys ingesluit.

Op ’n vraag wat Smit met die R10 000 gaan doen het hy geantwoord: “Ek weet nog nie, ek en Adamina dink ons gaan dit spaar vir ons volgende oorsese reis.”

Dankie aan elke leerling

Smit bedank graag almal wat meegedoen het aan die stemproses, asook al die wonderlike ondersteuning en terugvoering wat hy in hierdie tyd ontvang het.

“Ek dra hierdie toekenning op aan elke leerling wat my pad gekruis het en wat my gehelp vorm het in die onderwyser wat ek vandag is,” sê Smit.

Nóg ’n Despatcher onder Top 10

Een van Smit se oud-leerlinge en ’n voormalige hoofseun van die Hoërskool Despatch, Eghardt Basson, was ook onder vanjaar se Top 10-finaliste in Solidariteit se Onderwyser van die Jaar-toekenning.

Basson is ’n onderwyser by die Hoërskool Helpmekaar in Johannesburg.

Kosie Smit en dr. Dirk Hermann van Solidariteit.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article