VYFTIEN langasematlete van die Despatch-atletiekklub het reeds vir vanjaar se Comrades-marathon gekwalifiseer.
Hulle het van hulle plek in die af-wedloop oor 89km op 8 Junie vanaf Pietermaritzbutg na Durban seker gemaak toe hulle ’n paar dae gelede aan die NMB Gqeberha 50km ultra-marathon deelgeneem het.
Om vir die Comrades te kwalifiseer moet jou tyd onder 5 ure oor ’n marathon (42,2km) of onder 6 uur 10 minute oor 50km wees.
Die voorsitter van die klub, Helgard Potgieter, sê hy is trots op sy atlete se vertoning en fiksheid.
“Despatch het oor die jare ’n goeie naam by die Comrades opgebou en ons wil dié tradisie voortsit,” sê hy.
Potgieter sê daar is steeds ’n kans vir ander Despatch-hoopvolles om te kwalifiseer.
“Ons het ook ’n groep van ongeveer 22 atlete wat op 5 April aan die Twee Oseane ultra-marathon in Kaapstad gaan deelneem.
“Die roete is 56km en atlete draf deur bekende kusdorpies soos Muizenberg, Kalkbaai en Vishoek.
“Die roete gaan dan verder oor Chapmanspiek, deur Houtbaai en eindig by die Universiteit Kaapstad.”
“Ongelukkig hou beserings van ons atlete terug.
“Atlete kan ook nog in met die Festival of Running-marathon, of in Mei met die die Bruintjieshoogte 50km kwalifiseer.
“Dan is daar ook nog van ons atlete wat op 1 Maart hul Comrades-plek kan bespreek tydens die Cango-marathon op Oudtshoorn.”
Potgieter sê daar is ook van van sy atlete wat na ’n tweede agtereenvolgende medalje mik. Dit is net vir medaljes in jou eerste en tweede Comrades. Hulle is Aneke Moore, Edvin Donley, Bonita Weitsz, Jacques Botha en Sonja van Wyk.
Potgieter sê sy atlete spandeer baie ure op die pad ter voorbereiding vir die Comrades, en afgesien van al die opofferings, is die uitgawes uiteraard ook baie hoog.
“’n Paar fondsinsamelingpogings word ook tans geloods om die finansiële las net ’n bietjie ligter te maak vir ons atlete om hul Comrades-drome na te jaag.
“Ons wil die publiek vra om ons te ondersteun en sosiale media dop te hou vir besonderhede,” sê hy.





