‘n Buitelugfees word op Despatch gesamentlik deur ses NG gemeentes aangebied op Saterdag 5 November.
Dit is die tweede jaar wat dié fees aangebied word deur die gemeentes Eendrag, Dagbreek, Bothasrus, Despatch-Suid, Retief en Despatch-Noord. Vanjaar vind alle aktiwiteite op NGK Eendrag (Glaskerk) se kerkgronde plaas tussen 09:00 en 14:00.
Die ses gemeentes het almal kosstalletjies waar ‘n groot verskeidenheid eetgoed van tuisgebak, gebraai, vars produkte tot poedings en pannekoek gekoop kan word.
Dan gaan daar ook ‘n verskeidenheid ander stalletjies met handwerk, kuns, Kersgeskenke en snuisterye wees. Avonture wat die kleinspan besig gaan hou sluit in Popsi die Clown, ‘n klimmuur, springkasteel, gesigverf en ‘n lekkergoedtafel.
Verskeie plaaslike kunstenaars gaan optree en daar is ‘n stilveiling, waar ‘n bod ingesit kan word op die veilingitems wat te koop aangebied word.
- Vir meer inligting bel Yolandi Nortier by 041 933 1415.



