Despatch-, Kariega-skole kry eie koördineerder vir teenboelieveldtog

Bishop Vena. Foto: Verskaf
Bishop Vena. Foto: Verskaf

KARIEGA, DESPATCH – Die rofstoei-promotor Mark Beale se projek om Oos-Kaapse skoliere oor die gevaar van boelie, bendes en dwelms in te lig, het só uitgebrei dat Despatch en Kariega sopas hul eie koördineerder gekry het.

Hy is Bishop Vena, wat elke Maandagoggend skole in die streek sal besoek.

Bishop Vena. Foto: Verskaf
Bishop Vena. Foto: Verskaf

Beale en sy span was juis ‘n paar dae gelede in Despatch, Kariega en KwaNobuhle waar hulle by laer- en hoërskole besoek afgelê het.

Hulle besoek Despatch se skole saam met Vena weer in die tweede week van Maart. Volgens Beale is die leerlinge uiters geesdriftig en luister hulle aandagtig.

Kariega- en KwaNobuhle-skole wat ‘n paar dae gelede besoek is, is Mngcunube, Steven Nkomo, Gamble High en Uitenhage High.

Hy sê wanneer sy span op ‘n toer van drie dae gaan, besoek hulle skole in onder meer Graaff -Reinet, Makhanda, Langkloof, Jeffreysbaai en Nelson Mandelabaai.

Beale se span sluit bekende plaaslike rofstoeiers soos Mr Wrestling, TJ Tremor en The Loudmouth in. Talle pastore vorm ook deel van die projek. Beale sê sy ondervinding is dat skoliere veel eerder na rolmodelle luister as ander sprekers. Dit is juis waarom die projek so suksesvol is, glo hy.

Mark Beale
Mark Beale. Foto: Willemien Green

Hy sê toe sy projek in 2015 begin het, het hy ‘n lys van 300 skole van die Departement van Onderwys gekry, maar deesdae kry hulle gereeld versoek van nóg skole wat besoek wil word.

“Die projek bly groei en wys dat ons op die regte pad is,” sê hy.

Volgens Beale dra die projek ook ‘n sterk geestelike boodskap oor. Hy sê hy en sy span plant die saad, maar die Here gee dit water.

Beale sê hulle het oor die jare al derduisende skoliere op die regte pad gehou – en dit was van dag een af die hoofdoel met die projek.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article