Die Despatch Posduifklub het weereens ’n suksesvolle wedvlugseisoen agter die rug, met Boertjie Nell wat wééreens as die klubkampioen aangewys is.
Hennie le Roux was in die tweede plek met Tien Jordaan derde. In die 17 Duif-kompetisie het Theaan & Ursula met die louere weggestap gevolg deur Beauzec Hokke. Die juniors Theaan en Handre le Roux het goed gevaar deur algeheel agtste te eindig. Dit moet in ag geneem word dat hulle slegs vyf duiwe per naweek inskryf.
Wat die Nasionale Hok betref het dit onder omstandighede goed gegaan. Die COVID_19 pandemie het beslis die aantal inskrywings beïnvloed én wedvlugte moes weens gure weer ’n paar keer verander word. Die finale wedvlug vanaf Ladybrand (550 km) is gewen deur Marnits Fourie van De Aar. Tweede was African Roots, derde Beauzec en Vennote, vierde Chris Jacobs en vyfde Barney en John.
Die spankompetisie is gewen deur Paul Webber gevolg deur African Roots en Outeniqua-klub.
Duiweveiling
Die Nasionale Hok se duiwe word op Saterdag, 6 November opgeveil om plek te maak vir die 2022 inname. Daar is ongeveer 100 duiwe. Die duiwe be-skikbaar het ’n moeilike program agter die rug. Daar is duiwe van baie be-kende duiweboere beskikbaar en die duiwe sal goeie teelmateriaal uitmaak.
Die veiling word in die Despatch Posduifklub se klubkamer gehou. Die duiwe kan vanaf 10:00 besigtig word en die veiling begin 11:00. Die inname vir die 2022 Nasionale Hok het reeds begin. Die inskrywngsfooie is R5 900 vir ’n span van ses duiwe. Individuele duiwe kan ook ingeskryf word teen R1 100 per duif. Inskrywings is nie net beperk tot duiweboere nie, die publiek is ook welkom om in te skryf.
- Vir navrae bel Boertjie Nell by 083 709 2067 of Marcelle Els 082 438 3966.

