Die Despatch Atletiekklub het Mandela-dag gevier deur by die Despatch sportgronde bymekaar te kom, en van die geleentheid gebruik te maak om 67 minute lank rondtes van 1,3 km te hardloop.
’n Tydtoets is ook tydens die geleentheid gedoen.
Atlete is aangemoedig om ’n pak Weet Bix en/of ’n kombers te bring, wat geskenk is aan Pay it Forward (PIF), ’n nie- winsgewende organisasie wat afhanklik is van donasies om mense in nood by te staan.
Sonja du Preez, voorsitter van die PIF, het Helgard Potgieter, voorsitter van die Despatch Atletiekklub, en sy span bedank vir hierdie groot inisiatief.
“Die nood in ons gemeenskap is groot en donasies soos hierdie help ons om ons werk ’n bietjie makliker te maak,” het Du Preez gesê.
Daar is altesaam 100 pakke Weet Bix en 23 komberse ingesamel wat versprei gaan word na kinders wat erg deur die afgelope vloed geraak is.
PIF het ook van die geleentheid gebruik gemaak om Despatch Atletiekklub se Comrades atlete te vereer met ’n geskenk pakkie.





