ATLETE van die Karel Gerber Atletiek Akademie op Despatch het onlangs aan die Suid- Afrikaanse Junior- en Jeug-atletiekkampioenskappe in die Paarl deelgeneem.
Dit was driesprongatleet Elke Erasmus se eerste deelname aan ’n SA’s en ook haar “babajaar” in die o.17-ouderdomsgroep. Die senuwees het gevolglik geknaag en Elke het algeheel 12de uit die groep van 23 atlete geëindig.
Wernich van Rensburg het in die wegspringblokke gesak as die vinnigste o.18 400m-hekkies atleet in die suidelike halfrond, ná ’n tyd van 52.89 wat hy op 20 Maart by die Oval in die Baai aangeteken het. Wernich het goed vertoon en voor gehardloop tot in die pylvak waar hy onge-lukkig ’n hekkie raakgetrap het. Hy is net-net geklop en moes met ’n silwer medalje tevrede wees, alhoewel hy ’n persoonlike beste tyd van 52.69 opgestel het. Die wenner is nou die vinnigste o.18 400m-hekkies atleet in die suidelike half-rond met sy tyd van 51.90 en Wernich dus die tweede vinnigste in die suidelike halfrond.
Reze Coetzer het met die hamer ’n seisoen-beste van 56.64 meter gegooi en daarmee n silwer medalje gewen.
Die atlete, sowel as die afrigter, Karel Gerber, is lede van die Madibaz-atletiekklub van NMU. Vir die atlete is dit nou eers weer tyd vir leer en eksamen skryf, waarna daar weer geoefen gaan word.


