SPORT is in die bloed van heelwat Despatchers. Dit is weereens bewys, nadat die name van drie atlete van die plaaslike KG Akademie, op die Suid-Afrikaanse top 10-ranglys verskyn het.
Alhoewel die COVID-19 pandemie alle nasionale atletiekbyeenkomste gepootjie het, kon provinsiale kompetisies betyds voor die inperkings afgehandel word.
Volgens prestasies en punte na afloop van die provinsiale kompetisies het Atle-tiek Suid-Afrika ’n top 10 vertoningslys saamgestel van die o.17, o.19 en senior afdelings.
Die drie KG Akademie atlete, wat deur Karel Gerber afgerig word en op die ASA top 10 vertoningslys verskyn is: Reze Coetzer (1ste hamergrooi), Wehrnich van Rensburg (2de 400m hekkies) en Dane Coetzer (3de hamergooi).
Hekkies-fabriek
Gerber, wat op sy dae self ’n kranige atleet was, is ’n ASA nasionale afrigter asook ’n wereldatletiek-afrigter (IAAF).
Daar word spontaan na sy atletiek-aka-demie verwys as die “hekkies-fabriek”. Die rede hiervoor is duidelik wanneer daar na die lys hekkieprestasies gekyk word.
Die hekkiesatlete wat vanjaar goue me-daljes verwerf het by die Oos-Kaap laerskole-byeenkoms op Cradock is Tiaan Vosloo (70m hekkies), Anria Vosloo (75m hekkies) en Jordan Strauss (80m hekkies).
In die hoërskole-afdeling het die volgende atlete goue medaljes gewen en is in die Oos-Kaap atletiekspan opgeneem: Wehrnich van Rensburg (400m hekkies), Michael Spinks (110m hekkies) en Zanri Black (300m hekkies).
KG Akademie-atlete wat in ander items goue medaljes verwerf het en daarvoor in die Oos-Kaap atletiekspan opgeneem is sluit in: Reze Coetzer (hamergooi en driesprong), Dane Coetzer (hamergooi), Louw van Schalkwyk (hamergooi), Elke Erasmus (driesprong), Morne van den Bergh (800m), Wehrnich van Rensburg (400m).
Onder sy vroeëre hekkiesatlete wat goed presteer het, is daar Pienaar Aggenbag. Hy het die OP-rekord vir 110m hekkies vir mans tot onlangs gehou.
Lynette Fourie hou veskeie OP-rekords sedert 2002 en het nasionale kleure in haar matriek (2003) verdien.
Sy het by die Afrika-kampioenskappe goud in die 100m hekkies sowel as 400m hekkies verower.
Oud-kampioene se kinders nou kampioene
Talana Vosloo (néé Gerber) was vir 15 jaar lank die 100m hekkies OP-rekord- houer. Haar kinders Tiaan en Anria is ook twee hekkiekampioene.
Levert Pieterse, nog een van KG Akademie se atlete, het op die Wêreld Jeug Olimpiese spele in Amerika ’n vierde plek in die hekkies-finaal behaal.
Nog ’n oud-atleet wat deur Gerber afgerig is, Chantelle van Rensburg (néé Gerber) wat jare gelede ’n 400m hekkies finalis by die SA-kampioenskappe was. Haar seun is Wehrnich van Rensburg, een van KG Akademie se top 10 SA-atlete.
“Wehrnich is nog o.16 maar is alreeds die vinnigste o.17 atleet in Suid-Afrika. Hy kan heel moontlik volgende jaar Jeug Bokkie-kleure kry,” se Gerber.
‘Geen Genade Gerber’
Streng COVID-19 inperkings het die atlete verhoed om by hul gewone oefen-programme te hou, maar Gerber, wie ook “Geen Genade Gerber” genoem word, het alternatiewe programme uitgewerk.
“Die afgelope vier maande moes ons die oefeninge afwissel om fiksheid én belangstelling te behou.
“Vanaf 1 September sal die oefengroep weer in alle erns op die dorpsveld begin,” se Gerber.
Op die vraag wat maak van ‘n atleet ‘n toppresteerder, antwoord Gerber as volg: “Ek kyk na spoed en uithouvermoë. Dissipline is ontsettend belangrik en daar moet ‘n absolute wil by ‘n atleet wees om te presteer.
“Natuurlik speel gene ook n rol, ek kan nie dink dat ‘n donkie ooit die July sal wen nie.”
Gerber het in sy skooljare OP senior kleure verwerf in landloop sowel as in die destydse 440 en 880 tree. Hy het OP vanaf 1963 tot 1972 ‘n totaal van 49 keer verteenwoordig asook die SA Magte in 1967 en 1968.
“In die jaar 1967 het die metrieke stelsels verander en het die 440 tree 400 meter en die 880 tree het die 800 m geword. So-ook het die destydse myl verander na die 1500 meter,” se Gerber.
- Vir meer inligting oor die KG Akademie, bel Karel Gerber by 084 5567 499


