Dano Swart, ‘n oud-leerder en kragtige sportman van Brandwag wat in 2019 tydens ‘n rugbywedstryd sy C4 en C5 nekwerwels gebreek het en daarna sy lewe in ‘n rolstoel moes voortsit, was die inspirerende gasspreker by Laerskool Altona se sport- en kultuurtoekenningsaand.
Dano het nie net die toekennings en trofees aan die onderskeie pryswenners oorhandig nie, maar ook personeel, leerders en ouers se harte geroer met sy lewensverhaal oor sy sportongeluk én die impak daarvan op sy lewe.
“Dano se positiewe ingesteldheid en uitkyk op die toekoms het almal veral geraak. Dit is inspirerend om te sien hoe hy bo sy omstandighede uitstyg.
“Dano is voorwaar ‘n voorbeeld van deursettingsvermoë en hoe om doelgerig te leef,” sê Reon Swanepoel, adjunkhoof van Laerskool Altona op Greenbushes.
Die skool se tema van die aand was “Let your faith be bigger than your fears!”
Volgens Swanepoel is dit dieselfde tema wat die skool twee jaar gelede gebruik het toe leerders dié woorde op die rugbyveld uitgebeeld het om ‘n spesiale boodskap aan Dano te stuur.
“Ons het Dano destyds in Aurora Hospitaal besoek en ‘n Living Ball rugbybal met bybelverse daarop aan hom oorhandig om vas te hou in sy donkerste tyd,” sê Swanepoel.
’n Groot verrassing vir Dano was toe hy sy graad 2-juffrou van Laerskool Handhaaf, Mareli Nel Swanepoel, aan die eregaste se tafel gesien het. Dano beplan om volgende jaar aan Universiteit Stellenbosch sy studies in Landbou te begin. Na vele operasies en fisioterapie-sessies versterk die gebruik van sy arms en hande.
– UITGEREIK: LAERSKOOL ALTONA




