Dalestraat Congregational Kerk vier vandeesmaand hul 128ste bestaansjaar met ’n feestelike verjaarsdagprogram wat strek oor die naweek van 3, 4 en 5 Mei.
Die progam maak voorsiening vir jonk en oud en is ’n geleentheid vir die gemeenskap om bymekaar te kom en hulself te geniet met al die feestelikhede en lekkernye wat aangebied gaan word.
Die feesvieringe sluit in:
- ’n Mode-vertoning waar “Mnr. en Juffrou Winter” gekies gaan word op Vrydagaand, 3 Mei om 18:30 in die Roselane HT. Gamblesaal. Toegang is slegs R30. lnskrywingsvorms is beskikbaar by lede van die kerk.
- Op Saterdag 4 Mei begin die “Bazaar van alle bazaars” om 10:00 by die kerksaal in Gerald Smith. Daar sal braaivleis, potjiekos, gerookte boerewors asook allerhande versnapperinge soos melkterte, koeksisters, gemmerbier, fudge, toffie-appels en spookasem te koop wees.
- ’n Sentrale verhoog bied geleentheid vir ’n verskeidenheid genotvolle items om opgevoer te word. Buite-stasies van die kerk tot so ver as Steytlerville, Addo, Thornhill en Klipplaat gaan ook op die sentrale verhoog hul ding kom doen. Iets om na uit te sien, is definitief die “Kids Crown” om 11:00 tot 12:00 asook Dalestraat se “Vonkelvrou” kompetisie, om 12:00 tot 13:00.
- Die jong klomp sal kan deelneem aan tradisionele boeresporte soos sakresies en aartappel-in-die-lepel resies.
- Saterdag se outydse kerkbasaar is ’n dag wat definitief nie misgeloop moet word nie.
- Saterdagaand om 18:30 hou die kerk die Kore-aand waar die kerkkore van die gemeente asook ander susterskerke in Kariega en Gqeberha, die gehoor gaan trakteer met hemelse klanke. Toegang by die deur is R10 vir die gehoor en vir kore is dit gratis.
Benewens die drie kerkdienste van Sondag 5 Mei, sal die optogte van die seuns- en meisiesbrigade die hele gemeenskap se verbeelding aangryp.
Die jaarfees, bied ’n geleentheid om ’n terugblik in dankbaarheid te neem vir die Iang pad van 128 jaar waarlangs God met die kerk gewandel het.





