Bettie

Vir 365 dae, sedert 26 Maart 2020 toe president Cyril Ramaphosa die COVID-19 vlak vyf inperking aangekondig het, het Elizabeth Müller van Uitenhage dagboek gehou. Foto’s:HEILIE COMBRINCK

VIR 365 dae, sedert dag een toe president Cyril Ramaphosa die COVID-19-vlak vyf inperking aangekondig het, het Elizabeth Müller van Uitenhage dagboek gehou.

“My hande moet mos maar altyd besig wees en daarom het iets in my gesê, ‘hou dagboek Elizabeth hierdie pandemie is ’n gebeurtenis wat die lewe soos ons dit geken het gaan verander’,” sê Elizabeth Müller, ’n pensionaris wat voorheen die hoof van die Uitenhage Biblioteek was.

“Dit was raap en skraap om genoeg skryfpapier te kry en op ’n stadium het ek amper uit skryfgoed gehardloop. Maar, met die verslapping van die inperking het ek gou Odds & Ends toe gegaan om ’n boekie te kry.”

Met die herlees van haar dagboek sê sy daar was ’n mengelmoes van emosies wat sy in woorde en tussen die reëls vasgevang het.

“Daar was tye van lag, tye van onsekerheid en angs want ek het nie geweet hóé gaan ons deur hierdie ding kom nie. Daar was heimwee en verlange, tye van trane want ons almal ken iemand wat weens die virus gesterf het en ons dra emosionele letsels as gevolg van die pandemie-trauma.”

Maar Elizabeth is baie dankbaar want “COVID het nie aan hierdie huis gevat nie. Elke oggend maak ek my vensters wyd met blydskap oop en dank die Here dat ons lewens gespaar is.”

Haar eerste dagboekinskrywing is op 26 Maart 2020 en haar laaste inskrywing is op 27 Maart 2021.

“Ek het elke dag sommer geskryf watter dagtake ek gedoen het, hoe dit in die buurt gaan, oor die weer, watter kosse ons gemaak het, die boeke wat ek gelees het en gevoelens van die dag.”

Cup

Dié kersie van hoop in ’n gebroke wêreld het by Elizabeth Müller gebrand terwyl sy haar dagboekinskrywings gedoen het.

In haar laaste inskrywing sê sy: “’n Jaar terug het lockdown begin. Almal was so onseker wat aangaan, die Here was baie goed vir ons. Familie en vriende het heengegaan; dit was ’n droewige jaar. Almal moes maskers dra, 1.5 meter weg van mekaar staan. Dit was vreemd. Baie dae was ’n mens hartseer en verward, daar was angs en jy het jou toevlug na die Here gesoek. Verlang na familie en vriende, sonde was vreemd, die kerkklokke het nie gelui nie, daar was geeneen wat uitgedos was om kerk toe te gaan nie …”

Elizabeth sê wat sy die meeste gedurende die inperkings gemis het was familiekuiers, om met mense wat by haar huis verbystap te gesels en om Paasfees na behore te vier.

“Kerkklokke was tjoepstil in ’n tyd toe ’n mens eintlik gehunker het om dit te hoor. Daar was nie ’n brigade wat musiek hier in ons strate gemaak het nie. ’n Doodse stilte het tydens Paastyd geheers terwyl ons al die vorige jare dié spesiale tyd in al Sy glorie gevier het.”

Die pandemie het haar siening oor die lewe verander, “Ek neem nie meer my en my familie se gesondheid as vanselfsprekend aan nie. Jy weet, voor COVID het ’n mens nie eintlik besef wat jou gesondheid vir jou beteken nie. Nou is elke dag vir my propvol van die Here se genade,” sê Elizabeth.

Vir nou gaan Elizabeth haar dagboek herlees en met dankbaarheid elke dag geniet.

“Ek speel met die gedagte om miskien my dagboek in boekvorm te laat druk. Dalk met die titel iets soos Elizabeth se Memoirs.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article