‘n Fietsryer (20) is gisteraand, 3 Oktober in Kariega dood nadat hy net ná 20:00 deur ‘n motor in Caledonstraat raakgery is.
Volgens polisiewoordvoerder, Kaptein Gerda Swart, is die oorledene – Nathan Nortjé van Blikkiesdorp – deur ‘n Opel Corsa, wat in die rigting van Kamesh gery het, getref.
“Daar word beweer dat die bestuurder van die Corsa met die fietsryer gebots het en toe in ‘n stilstaande voertuig vasgery het. As gevolg van dié impak het die stilstaande motor ook teen ‘n motor voor dit gebots,” het Swart verduidelik.
Nortjé is op die toneel dood en die 23-jarige bestuurder van die Corsa is in die hospitaal opgeneem.
Kariega-speurders ondersoek ‘n saak van strafbare manslag en die ondersoek duur voort.
Bron: SAPD mediaverklaring





