Die Grond tot Mond-mark word op 16 Junie by Elephant House langs die R335-pad op pad na Addo Nasionale olifantpark gehou. Foto:VERSKAF

“Geen gaste, geen inkomste en daarom…”

Met dié woorde in haar agterkop het Helga Vermaak van ’n gastehuis naby Addo-olifantpark, reëlings begin tref om ’n buitelugmark te hou om werkers in die toerismebedryf te ondersteun, aangesien hulle nog steeds sonder ’n behoorlike inkomste sit weens die COVID-19 pandemie.

Op 16 Junie word die eerste Grond tot Mond buitelugmark by Elephant House gehou.

“Dit is ons heel eerste mark om die Elephant House personeel die kans te gee om vir die dag entrepreneurs te wees en ’n inkomste te verdien. Lindy gaan haar eie handgemaakte hekelitems te koop aanbied en Charlene sal boereworsrolle en hamburgers verkoop,” sê Helga.

Ander toerismegedrewe instansies en mense van die Addo-omgewing wat nou ook noustrop trek weens die drastiese afname in toerisme, sal ook die geleentheid benut om ’n inkomste te verdien deur onder meer Hi Gorgeous speelgoed, Addo OK Mini Mark met heerlike gebak, Kirkwood se Youniq by Stephanie en Simply by Suenay sowel as Addo Puff Clothing te koop aan te bied.

“Daar is tans 57 stalletjies met heelwat plaaslike mense wat kom uitstal, want ons wil juis plaaslik ondersteun.”

Maar daar is wel ’n paar stalletjiehouers vanaf Uitenhage, Despatch en Port Elizabeth soos Little Lads & Diva’s, Swier, Buygrow Seedlings en Fatfrank. Lizelle de Kock en Painting with Grapes gaan privaatsessies op die dag aanbied, een oor mode en die ander een oor kuns.

“Ons is baie bevoorreg om hierdie wonderlike venue by Elephant House vir die buitelugmark te hê. Ons glo dit gaan baie suksesvol wees, want daar is beslis iets vir elkeen. Ons het regtig probeer om ’n verskeidenheid van produkte te kry om die mark interessant te maak.”

Ander aktiwiteite van die dag sluit in vermaak deur Freddie Jansen, musikant van Kirkwood. Die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens sal ook by die mark wees vir markgangers wat wil bloed skenk. Bloedvoorraad is laag weens die pandemie en ook as gevolg van die onlangse stakings wat bloedskenk-geleenthede verhoed het.

Die mark word op die vakansiedag, 16 Junie van 09:00 tot 16:00 by Elephant House se ou Wine Bar langs die R335 gehou. Dit is slegs 8km vanaf die Addo Nasionale Olifant-park se hoofingang. Toegang is R20 vir volwassenes, R10 vir skoliere en voorskoolse kleintjies kan gratis ingaan. Elephant House het ook selfsorg-akkommodasie wat tans teen spesiale tariewe beskikbaar is.

  • Vir meer inligting oor die Grond tot Mond-mark bel Helga by 084 731 2580 en vir Elephant House akkommodasie bel 083 354 0429.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article