’n Buitelugfees waar daar onder bome gekuier en stalletjies met kos, kuns en kreatiwiteit besoek kan word, is waarheen alle paaie eersdaags op Despatch gaan lei.

Dié fees word deur ses NG-gemeentes op die dorp naamlik Despatch-Suid, Despatch-Noord, Bothasrus, Retief, Eendrag en Dagbreek by NGK Despatch-Suid se gronde op 6 November aangebied.

Stalletjiehouers wat produkte vir ’n Kersmark voorsien is welkom om by die fees te kom uitstal. Stalletjies met eet- en drinkgoed en allerlei lekkernye wat gewoonlik op kerkbasaartafels is, word deur die onderskeie gemeentes voorgesit.

Die Buitelugfees word van 09:00 tot 14:00 gehou en feesgangers kan al vroeg inval vir ontbyt-op-die-kole. Op die spyskaart is daar roosterkoek, boerewors, roereier, pap-en-sous, varknekrolle, kerrievetkoeke, kerrie-en-rys met slaaie, potjiekos, panne-koek, vars groente en gebottelde produkte, soettafel met poedings en ’n teetuin.

Daar sal ook verskeie speletjies vir oud en jonk aangebied word sowel as musiek en ander feestelike aktiwiteite.

Sondag, 7 November word ’n Buitelug- diens saam met die Tiendemaand-dankoffer-feesdag gehou. COVID-19-maareëls sal streng toegepas word by die Buitelugfees sowel as buitelugdiens.

  • NGK Despatch-Suid se gronde is op die hoek van Kerk- en Kromstraat. Stalletjiehouers wat graag Kers-produkte, interessante geskenke, kuns, klere en ander items wil verkoop kan ’n stalletjie bespreek by Catrien 082 702 8345.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article