Broers Riaan en Alton Senekal, stasie-offisiere by die KwaNobuhle brandweerstasie, is gereed om weer hulle yster by vanjaar se Wêreld-Brandweerspele in Denemarke van 7 tot 14 September te gaan wys. Tussen die twee gaan hulle aan ’n magdom items deelneem, insluitend hamergooi, gewigstoot, spiesgooi, skyfwerp, kragoptel, muurbal, trappe-hardloop en hoefystergooi-dubbels.

Foto: Anika de Beer

Die brandweerbroers van Kariega is al weer op pad landuit om aan die 15de Wêreld-Brandweerspele deel te neem.

Alton en Riaan Senekal hoop om weer ’n klomp medaljes huistoe te bring, dié keer van Aalborg, Denemarke.

Die twee is al die titel van wêreldkampioene goed gewoond aangesien dit die sesde keer is wat hulle saam aan die Wêreld-Brandweerspele sal deelneem en hulle kom nooit sonder ’n paar goue medaljes terug nie. Dié spele vind elke tweede jaar plaas.

Destyds het Riaan met ’n persoonlike kwessie geworstel toe Alton per toeval ’n advertensie van die spele gesien het.

“Dit was ’n all-time low wat ’n all-time high geword het,” vertel Alton. “Ek was op die internet eendag en daar kom ’n advertensie op van die World Firefighting Games wat in Daegu, Suid-Korea gaan plaasvind. Ek dink toe dalk is dit nou die regte tyd om Riaan bietjie uit hierdie omgewing te kry, dat ons miskien kan wegkom hier.”

Voor hy nog kon wonder waar hulle die geld sou kry, het Riaan klaar gesê hy is in en hulle sal ’n plan maak. Die res, soos hulle sê, is geskiedenis.

Dit was in 2010 en hulle het nog nie ’n Wêreld-Brandweerspele van toe af gemis nie.

Alton en Riaan, albei stasie-offisiere by die KwaNobuhle brandweerstasie, is al vir maande hard aan die oefen vir die spele.

Hoewel deelnemers nie hoef te kwalifiseer nie en eerder op ’n vrywillige basis vir die Wêreld-Brandweerspele inskryf, beteken dit ook dat hulle verantwoordelik is vir hulle eie oefening en verblyf- en vervoerreëlings.

Tussen die twee gaan hulle aan ’n magdom items deelneem, insluitend hamergooi, gewigstoot, spiesgooi, skyfwerp, kragoptel, muurbal, trappe-hardloop, en hoefystergooi-dubbels.

Toutrek is gewoonlik ook op hulle lysie, maar hulle moet dit ’n mis gee hierdie jaar aangesien te veel van die items waaraan hulle deelneem, op dieselfde dag gaan gebeur.

Aan die ander hand, die hoefystergooi is iets wat hulle nie graag wil mis nie.

“Dis mos eintlik ’n Amerikaanse sport. Ek het destyds sommer ’n goedkoop stelletjie gekoop vir ons om mee te oefen,” vertel Riaan.

senekal, brandweer

Riaan en Alton Senekal is gereed om hulle yster by vanjaar se Wêreld-Brandweerspele in Denemarke van 7 tot 14 September te gaan wys.

Of hulle dit net vir pret die eerste keer probeer het, maak nie saak nie, want in dié sportsoort het hulle ook al ’n paar goue medaljes gewen.

“Ons het vir die eerste keer in Korea daaraan deelgeneem. Daar was 88 spanne. Toe wen ek en hy die goud met een punt. In Portugal (die 2022 spele) het ons enkels gespeel. Toe gaan ek en hy deur tot die finale ronde en speel teen mekaar. Een het met goud weggeloop en een met silwer,” lag Riaan.

Alton gaan ook vanjaar vir die eerste keer aan die strawwe stair run deelneem.

“Dis baie, baie moeilik en veeleisend. Ek het hard geoefen daarvoor en wil graag iets daar wen,” vertel hy. “Jy is onder ongelooflike druk wanneer jy daar kom, want jy wil nie met leë hande terugkom nie. As jy die eerste dag met jou eerste item eers iets gewen het, dan is die ys gebreek. Dan voel jy gemaklik.”

Buiten die kompetisie aspek, geniet hulle ook die atmosfeer by die spele.

“Dit is ’n ongelooflike byeenkoms om by te woon,” vertel Alton.

Die kameraderie wat hulle daar ondervind is altyd ’n lekker verrassing.

“Ons is maar eintlik almal een groot familie. Dit maak nie saak of jy ’n firefighter in Suid-Afrika of Denemarke of Australië is nie. Ons almal praat dieselfde taal. Ons almal blus brande en doen reddingswerk,” vertel Riaan.

Hulle is gretig om weer vanaf 7 tot 14 September aan die Wêreld-Brandweerspele deel te neem.

“Dit is absoluut ’n hoogtepunt vir ons om soontoe te gaan en daar te gaan deelneem. Dit maak die harde werk, die oefeninge en alles wat jy deurgaan, die dae wat jy nie lus was om te oefen nie, alles die moeite werd wanneer jy daar kom,” sê Alton.

Goed om te weet
  • Die Wêreld-Brandweerspele is vir die eerste keer in 1990 in Nieu-Seeland gehou.
  • Alton en Riaan Senekal se eerste deelname aan die Wêreld-Brandweerspele was in 1998 toe dit in Durban gehou is.
  • Die spele is in 2014 gekanselleer. Dit sou in Kanada plaasvind. Dit is weer in 2020 weens COVID nie gehou nie.
  • In 2015 het Riaan aan die Wêreld Polisie- en Brandweerspele deelgeneem. Alton was van sy voete af ná ’n knie-operasie.
  • By die spele in Denemarke vanjaar word meer as 6 000 deelnemers verwag om aan die meer as 50 items deel te neem.
  • Alton en Riaan, albei kranige sportmanne bly nie net fiks by die werk of vir die paar maande voor en tydens die spele nie. Alton, ’n voormalige OP speler, geniet nog gereeld ’n muurbal stryd en Riaan speel nog rugby vir Park Rugbyklub.
  • Hoewel hulle in albei by die brandweerstasie in KwaNobuhle werk, en op Kariega grootgeword het, bly die een in Gqeberha en die ander in die Gamtoos. 

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article