Nerisha Greeff het deel geneem in internasionale Talent America-kompetisieen as die model van die jaar aangewys is. Foto: VERSKAF


’n GRAAD 11-leerling van die Hoërskool Brandwag, Nerisha Greeff, het onlangs New York so te sê aan haar voete gehad toe sy by die internasionale Talent America-kompetisie as die model van die jaar aangewys is.

Nerisha is ook as Miss Talent America 2019 aangewys en het verder die Division- en Pinnacle-toekennings gewen.

Sy het in vier verskillende afdelings vir modelwerk, wat wissel van swemklere tot formeel, die eerste plek behaal en het twee danskategorieë gewen terwyl sy die naaswenner in ’n derde kategorie was.

Sy het ook die eerste plek behaal in die kategorie vir foto-modelwerk.

Vier verskillende agentskappe wat modelle en dansers kontrakteer het ontmoetings met Nerisha aangevra.

Sommige van die agentskappe soek modelle vir fotografie of modeparades, maar ander kontrakteer dansers vir blyspele op Broadway en ander optredes wat televisiewerk insluit.

Nerisha, wat akademies goed presteer, straal as sy vertel van haar ervaring in New York.

Sy het sommer dadelik verlief geraak op die stad en het rondgerits om al die bekendste besienswaardighede in die stad te besoek.

Sy sê sy het glad nie verwag om so goed te vaar in die kompetisie nie en het eintlik by Talent America beter gevaar as by Talent Africa waar sy ook een van die groot uitblinkers was.

Sommige van die agentskappe wou hê Nerisha moes sommer dadelik in New York aanbly.

Sy is van plan om eers haar skoolloopbaan te voltooi, maar wil beslis daarna na New York terugkeer vir ’n moontlike loopbaan as model en danser.

Nerisha is ’n lid van die Leanka Laubscher-dansskool.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article