Hier wys Jamiane Dampies sy bedrieglike systap terwyl hy vroeër vanjaar vir Brandwag in aksie was.

Foto: Karen Pienaar

Die Oostelike Provinsie het verlede week goed vertoon in die verskillende provinsiale skolerugby toernooie, met spelers van die Hoërskool Brandwag wat hulle merk op interprovinsiale vlak gemaak het.

Die OP se Cravenweekspan het dié toernooi onoorwonne geëindig.

By Cravenweek (o.18) het twee Brandwag-spelers, Jamiane Dampies en Lu-Crain Muggels, die OP verteenwoordig. Jamiane het in al drie wedstryde gespeel en het in die eerste wedstryd ’n briljante individuele drie gedruk. Daarna het Jamiane ook die speler van die wedstryd-toekenning vir die laaste wedstryd gekry. Rugbykenners het Jamiane se flink voetwerk, sy goeie verdediging en sy vaardigheid onder die hoë bal uitgewys as van sy sterkpunte.

Lu-Crain het goed vertoon op skrumskakel in die tweede wedstryd en het in die laaste wedstryd van die bank af opgekom. Nog ’n Brandwag-speler, Remi Heymans, het goed vertoon in die voorry vir die OP Akademiespan. Sy skrumwerk was merkwaardig.

Op o.16-vlak het Damian le Roux (agsteman) en Zandré van der Mescht (haker) die kans gekry om vir hulle provinsie uit te draf. Damian was ongelukkig om harsingskudding vroeg in die eerste wedstryd op te doen en het as gevolg daarvan die ander wedstryde misgeloop.

Zandré het ’n goeie vertoning op haker gelewer en het in al drie wedstryde gespeel met ’n hoë werksverrigting. Beide Zandré en Damian is vanjaar lede van Brandwag se hoogs suksesvolle o.16A-span.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article