Dit was Junior Bok Michael Annies se idee om sy Springboktrui aan sy alma mater, die Hoërskool Brandwag, te skenk. Op die foto is, van links, mede-afrigter van die eerste span Wikus Viljoen, Annies en skoolhoof Steven Zietsman.

Foto: Verskaf

Een van die o.20 Junior Bokke wat onlangs aan die o.20 Rugby Wêreldbeker deelgeneem het, is ’n trotse oudskolier van die Hoërskool Brandwag, Michael Annies.

Annies het, onder meer, in 2020 vir Brandwag se eerste span op losskakel uitgedraf by die Graeme College Rugbyfees wat jaarliks in Maart plaasvind. Op die dag het ’n baie belowende Brandwag-span ’n historiese oorwinning oor Grey High School van Gqeberha behaal, voordat die COVID-19 pandemie die res van die jaar se sport in die wiele gery het.

Annies speel deesdae sy rugby vir die Toyota Cheetahs op heelagter en het vir die Junior Bokke in die nommer 11-trui op linkervleuel uitgedraf.

Terug in sy tuisdorp het Annies sy skoolafrigter, Brandwag se adjunkhoof Jannie Erasmus, uit sy eie gekontak omdat hy graag sy Springboktrui aan sy alma mater wou skenk. Met dié gebaar wou Annies, wat sy laerskoolloopbaan by die Seagull Primêre Skool in Rosedale voltooi het, dankbaarheid teenoor sy skool wys en ’n boodskap van hoop en inspirasie vir die leerlinge van Brandwag bring.

Annies, ’n nederige jong man, noem homself ’n man van min woorde, maar het tydens die weeklikse vierkant-byeenkoms besoek afgelê en sy gesogte Bok-trui aan die skoolhoof Steven Zietsman oorhandig. Zietsman het op sy beurt belowe dat die skool “iets spesiaals” met die trui sal doen.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article