VIR meer as ’n jaar was skolerugby – wat vir groot opwinding sorg –medm weens die COVID19-pandemie opgeskort.
Goeie nuus is dat skolesport hervat kan word, mits geen toeskouers toegelaat word nie en alle COVID-19 regulasies toegepas word.
Die departement van onderwys, sowel as die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (SARU), het skole dié groen lig vir skolesport gegee. Dit volg nadat die departement in die Staatskoerant aanpassings gemaak aan die regulasies waarvolgens interskolewedstryde voorheen verbied was.
Die Brandwag Hoërskool se hoofafrigter, Jannie Erasmus sê, “Ons seuns is uitgehonger om wedstryde te speel en kan nie wag om op die veld te kom en kompeterend te wees nie.”
Brandwag se eerste wedstryd is op 8 Mei teen Muir College en die rugbyspelers sien baie uit na die seisoen. Brandwag se A-spanne oefen al sedert die skole begin het, natuurlik met inagneming van protokolle.
Verlede jaar het Brandwag in Maart met Grey afgereken (17-10) en daarna nie weer die kans gehad om teen nog ’n skool te speel nie.
“Ons seuns het die voorgeskrewe protokolle streng gevolg en is tans in die laaste twee weke van hul kontak-oefeningsfase. Die ‘Wolf Pack’ is reg vir die jag!” sê Erasmus.



