Brandwag se ster-kragoptellers met hulle trofeë is, van links, Catinka Fourie, Chanté Mulder, Anika Maree, Stian Landman, Stephené Loubser, Nicole Loubser en Pearl Bucwa.

Foto: Karen Pienaar

Sewe kragoptellers van die Hoërskool Brandwag het onlangs aan die SA Equipped-kampioenskap deelgeneem en drie van hulle het altesaam tien nuwe rekords opgestel.

Chanté Mulder het eerste plek in beide die sub-junior en junior ouderdomsgroepe behaal. Sy het in die o.69 kg-divisie deelgeneem. Haar hurksit was 127,5 kg, haar borsopdruk 80 kg en haar dooiegewig was 135 kg vir ’n totaal van 342,5 kg. Chanté het nuwe Oos-Kaap-rekords opgestel met haar sub-junior totaal, die junior hurksit, junior borsopdruk en die junior totaal. Sy het ook die SA-rekord in sub-junior borsopdruk verbeter en is aangewys as die beste junior kragopteller.

Anika Maree, in die o.76 kg-divisie, het eerste plekke in die junior en sub-junior ouderdomsgroepe behaal met ’n hurksit van 140 kg, ’n borsopdruk van 72,5 kg en ’n dooiegewig van 135 kg vir ’n totaal van 347,5 kg. Anika het drie SA-rekords in die sub-junior kategorie laat kantel met onderskeidelik haar hurksit, borsopdruk en haar totaal.

Catinka Fourie het in die o.63 kg-divisie meegeding en het die tweede plek in die sub-junior ouderdomsgroep behaal met ’n hurksit van 115 kg, ’n borsopdruk van 62,5 kg en ’n dooiegewig van 125 kg vir ’n totaal van 305 kg. Met dié prestasies verbeter sy die Oos-Kaap-rekord in die sub-junior hurksit en die Oos-Kaap-rekord vir die totaal.

Pearl Bucwa het in die o.47 kg-divisie deelgeneem en die eerste plek in die sub-junior ouderdomsgroep behaal met ’n hurksit van 75 kg, ’n borsopdruk van 35 kg en ’n dooiegewig van 105 kg. Haar totaal was 215 kg.

Nicole Loubser het in die o.52 kg-divisie meegeding en ’n eerste plek in die junior ouderdomsgroep behaal met ’n hurksit van 87,5 kg, ’n borsopdruk van 40 kg en ’n dooiegewig van 110 kg vir ’n totaal van 232,5 kg.

Stephené Loubser het in die o.69 kg-divisie deelgeneem en die tweede plek in die sub-junior ouderdomsgroep behaal met ’n hurksit van 120 kg, ’n borsopdruk van 55 kg en ’n dooiegewig van 115 kg vir ’n totaal van 290 kg.

Stian Landman het sy staal gewys in die o.93 kg divisie en die eerste plek in die sub-junior ouderdromsgroep ingepalm. Stian het ’n hurksit van 150 kg gedoen. Sy borsopdruk was 82,5 kg en sy dooiegewig 170 kg vir ’n totaal van 402,5 kg.

  • Pearl, Catinka, Chanté, Stephené en Anika is gekies vir die SA Equipped-span wat einde Augustus aan die Wêreldkampioenskap in Roemenië gaan deelneem.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article