Marinda Singleton is ‘n gekwalifiseerde persoonlike afrigter en sê Boot Camp maak jou fikser, sterker en gesonder.

Foto: Heilie Combrinck

Fiks, fikser … oefenkamp-fiks!

Elf jaar gelede het Marinda Singleton op ‘n oop stuk veld naby Muir College met Boot Camp oefeninge begin. Vandag is dié gekwalifiseerde persoonlike afrigter en eienaar van Boot Camp Uitenhage en haar dogter Lené van Staden, voltyds besig om mense van alle fiksheidsvlakke te help om ‘n gesonde leefstyl met ‘n kombinasie van krag- en kardio-oefeninge te handhaaf.

Marinda Singleton (links) en haar dogter Lené van Staden van Boot Camp Uitenhage.

“Ek is absoluut mal oor oefen en geniet wat ek doen. Die atmosfeer hier is amazing, dit is ‘n aansteeklike energie en mense voel goed as hulle oefen. Vir my gaan dit regtig oor ‘n gesonde gees en dit lei tot ‘n gesonde liggaam,” sê Marinda.

Boot camp oefeninge is eintlik buitelugoefeninge, maar Marinda sê veranderende weersomstandighede maak dit moeilik en daarom het sy na die ruim Father’s House Church (voorheen binnehuise krieketarena) in Johnstraat verskuif.

“Dit was vir my soos ‘n droom wat bewaarheid is om in hierdie groot ruimte Boot Camp te kan aanbied. Mense van alle fiksheidsvlakke en ouderdomme is in een klas, ek hou van die groepdinamika, dit is ‘n vorm van aansporing.

“Maar ons ken ook elkeen van ons kliënte en weet wat hul potensiaal is. So ons sal hier bietjie aanmoedig en daar help en sê nee wag, daardie gewigte is te swaar. Individuele aandag is absoluut belangrik binne groepsoefeninge.”

Volgens Marinda sluit baie mense aan omdat hul gewig wil verloor. “Ek verstaan dit, oefen help jou om gewig te verloor, maar my werk is om jou fikser, sterker en gesonder te kry.

“Daar is soveel voordele aan ‘n gesonde liggaam, dit help met koordinasie, sterker bene, met balans as jy ouer raak, en mense wat oefen is go-getters en lus vir die lewe. ‘n Mooi lyf is ‘n bonus,” sê Marinda.

Lene van Staden (19) het sowat ‘n jaar-en-’n-half gelede by haar ma aangesluit. Sy het reeds van 13-jarige ouderdom saam met haar ma begin oefen en het verder studeer en is ‘n gekwalifiseerde fiksheidinstrukteur en gespesialiseerde voedingkundige. Sy werk persoonlike eetprogramme vir individue uit.

“Ons kombinasie van ma-en-dogter werk goed en ons vul mekaar goed aan. My ma het die ervaring en ek help met nuwe idees en hanteer die sosiale media platforms,” sê Lené.

“Wat my vreeslik ontstel is om te sien hoe ongesond en onfiks party jongmense is. Dan dink ek sjoe, as jy nou al so swak, onfiks en ongesond leef, hoe gaan jy nie sukkel as jy oud word nie?”

Beide Marinda en Lené sê die satisfaksie om te sien hoe mense fikser, sterker en gesonder raak is vir hulle die grootste beloning as fiksheidsinstrukteurs.

Boot Camp Uitenhage bied vier keer ‘n week oefenkampe aan met oggendklasse (Maandae, Dinsdae, Woensdae en Vrydae) van 05:00 tot 06:00 en 08:00 tot 09:00. Die aandklasse (Maandae tot Donderdae) is 17:00 tot 18:00 en 18:00 tot 19:00.

  • Vir meer inligting besoek Boot Camp Uitenhage se webtuiste of bel Marinda Singleton 069 388 1957 of Lene van Staden 067 951 0967.

‘n Boot camp groep vol energie na hul vroegoggend oefensessie met Lené van Satden en Marinda Singleton voor.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article