Rassie Erasmus, Colin Bartle en Danie Gerber. Foto:argief


DIE 2019 Rugby Wêreldbeker skop môre in Yokohama Japan af en die Hoërskool Despatch se bloed klop in groen en goud.

Dit is nie omdat dit ook dié skool se kleure is nie, maar omdat hul trots is op oud-skolier en Springbokrugby-afrigter Rassie Erasmus.

2019 is ’n besondere mylpaaljaar vir die Hoërskool Despatch aangesien dit die skool se 70ste bestaansjaar is. In dié feesvierjaar is die skool se eerste rugbyspan onoorwonne in hulle liga, ’n prestasie wat 50 jaar gelede behaal is.

Daarby is nie net die span aangewys as ’n finalis in die Ruggas.co.za se Span van die Jaar 2019 nie, maar die afrigter is ook ’n finalis in die afdeling vir Afrigter van die Jaar 2019.

Afrigter Elric van Vuuren sê, “Baie dankie aan elke speler wat hierdie jaar gewys het dat dit nie saak maak wat die omstandighede is nie, jy kan sukses behaal. Julle het my passie vir die spel net weer aangewakker.”

“Ons as skool en gemeenskap is baie trots op dié groep seuns. ‘n Spesiale gelukwensing aan Corné Boland wat die o.19-OP Curriebeker-span gehaal het en volgende week in die Paarl gaan deelneem.”

Oud-skoliere wat op die rugbyveld hoogtes bereik het sluit in Rassie Erasmus, Danie Gerber en Pote Human.

Rassie Erasmus (46) is ’n voormalige Springbok-rugbyspeler, die 47ste Springbok-kaptein (1999) en nou Springbok-rugbyafrigter. Danie Gerber word internasionaal geag as die beste Springboksenter ooit en is hiervoor vereer deur die internasionale rugbyraad. Pote Human is die Bulle se hoofafrigter.

Die Bokke speel môre in hul eerste Poel B wedstryd teen die afgelope twee jaar se wêreld-kampioene, Nieu-Seeland. Hulle drie ander poel-wedstryde is as volg: Namibië (28 September), Italië (4 Oktober) en Kanada (8 Oktober).

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article