Boet Landman Stoffeerders se span raakvatters. Fotos:HEILIE COMBRINCK


DIE stoffering van ‘n sitkamerstel 40 jaar gelede in ‘n motorhuis in Kariega, was die begin van Boet Landman Stoffeerders wat vandag steeds met sukses hul vaardighede in die Oos-Kaap inspan. Dit is die oudste algemene stoffeerbesigheid in Nelson Mandela-metropool.

Landman het destyds sy stoffeerkuns by die Volkswagen-fabriek geleer, waar hy in die afdeling gewerk het waar stoffering gedoen is. In 1981 het hy ‘n klein stoffeer-besigheid vanuit ‘n motorhuis bedryf, maar moes spoedig na ‘n grooter perseel verhuis en in 2010 is ‘n nuwe gebou by Bubbstraat 5 opgerig.

Hy is in 2014 oorlede waarna sy skoondogter, Elmarie Landman, die besigheid oorgeneem het.

“Toe ek klaargemaak het by die Byenes, het ek my skoonpa kom help. Soos die jare aangestap het en hy ouer geword het, moes ek meer verantwoordelikhede oorneem en uiteindelik die besigheid,” sê Elmarie.

Boet Landman het nie nee gesê vir stoffeerwerk nie en Elmarie sê hulle volg sy voorbeeld.

“As dit ‘n nuwe uitdaging is, dan tackle ons dit. Oor die jare het ons baie uitdagings gehad met kontrakwerk of interessante oortrekwerk wat ons kliënte wou hê. Dit is lekker, nuwe uitdagings is altyd goed.”

Boet Landman Stoffeerders het ook kontrakwerk vir verskeie industrieë soos VWSA, Kromberg & Schubert, Volkswagen Market Square en ander motorhandelaars gedoen.

Gert Nieuveldt was Boet Landman se eerste werker en later jare het sy kinders Geraldine en Renaldo ook by die besigheid aangesluit. Van die werkers wat tans die langste diens geniet is Phylus Mboya (25 jaar) en Jeffrey Petersen (20 jaar).

“Ek hou veral daarvan om kussings oor te doen. En dit was ook my taak om die nuwe en jonges wat hier kom werk te leer. Dit is vir my baie lekker hier by Boet Landman Stoffeerders,” sê Phylus.

Boet Landman Stoffeerders pas aan by vernuwing en wat ook al met materiaal en spons gemaak kan word, dit doen hulle. Van meubels, ritssluiters, voertuie se binneruimtes tot tente en beskermseile vir bote en karavane.

  • Vir meer inligting bel Boet Landman Stoffeerders by 041 992 1366 of 076 051 8481.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article