AKTEUR Phillip Henn het oorspronklik bekendheid verwerf vir sy rol as Johann Vorster in die televisiesepie, Egoli en is later jare te sien in rolle soos dié van dokter Chris Van Deventer in die gewilde televisiereeks, Binnelanders.

Phillip Henn. Foto:VERSKAF

’n Man van vele talente, voor én agter die kameras, het Phillip helaas besluit om sy hand aan pen te slaan en dit het uiteindelik tot die publikasie van sy debuutroman, 500 Myl, gelei.

Met die eerste oogopslag is hierdie boek iets spesiaal. Die bruin kartonomslag-verpakking is uniek en klassiek.

Daar is ’n spreekwoord wat lui dat ’n prent ’n duisend woorde werd is, en dit is vir seker die geval met die boek se voorblad. Die verlatenheid, deursettingsvermoë en onwankelbare geloof van die penkoppe – die kinders waaroor hierdie verhaal handel – word vasgevang in die voorbladfoto.

500 Myl is ’n aangrypende verhaal wat ’n blik bied op die lewens van ’n groep kinders tydens die tweede Anglo- Boereoorlog. Die kinders besluit dat hulle nie verder kans sien om in ’n oorlog te veg waarvan hulle geen deel wil hê nie.

In die eerste hoofstuk word die leser aan die hoofkarakters bekendgestel asook die absolute hooploosheid van hulle lot in hierdie oorlog vir grootmense. Hulle besluit toe om die reis aan te pak na die weskus, waar hulle hopelik sou vry kom van die ellende waarin hulle hulself bevind.

En so begin die reis met hierdie gebed, “Onse Hemelse Vader…doodgaan sal ons doodgaan…maar hóé ons leef terwýl ons leef, is al wat saak maak…net met U genade alleen…Amen.”

500 Myl. 15 Dae. 7 Kinders.

Die boek is geïnspireer deur ware gebeure en karakters en gegrond op deeglike navorsing.

Dit is óns as ouers en grootouers wat die nagetagtenis van die duisende kinders wat hulle lewens vir ons land opgeoffer het, moet vereer. Dit is slegs moontlik as ons die Penkoppe se stories oorvertel sodat niemand dit ooit vergeet nie.

Alhoewel die verhaal hartroerend en volwasse is, is dit vir alle ouderdomme toeganklik.

Die waardes van vriendskap, uithouvermoë, omgee vir jou medemens en belangrikheid van geloof in tye van swaarkry, maak hierdie boek die perfekte geskenk vir jonk en oud.

Die 500 Myl–film sal ook in 2022 op skerms verskyn.

Besoek gerus die boek se webtuiste: 500myl.com om met Phillip kontak te maak om die boek te bestel, asook vir spesiale aanbiedinge en afslag vir skole.

Hierdie boek lê Phillip na aan die hart en hy neem groot trots daarin om dit te onderteken, verpak en persoonlik uit te stuur.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article