TEN spyte van die hoë vlakke van werkloosheid slaag rugby op Despatch daarin om nuwe hoop aan die gemeenskap te bring, naweek na naweek.
Dit is veral waar van Despatch Oostelikes Rugbyklub, vir wie die 2019-seisoen een van die bestes in jare was. Die klub is in 1992 gestig deur onder andere die ontslape Wilson Samp-son, Frans Elias en Booi Stuurman.
“Vanjaar was ’n besondere goeie jaar want ons klub is bevorder na die EP Grand Challenge liga, waarvoor ons al vir 27 jaar veg,” sê Logan Ruiters van Despatch Oostelikes.
“Nou is daar ook die geleentheid om moontlik mee te ding vir die gesogte nasionale Gold Cup.”
Die klub se punte aangeteken gedurende die 2019 seisoen staan op 868 met slegs 120 punte wat teen die klub aangeteken is.
Tydens die onlangse prysuitdeling is Rodwin “Bakkies” Pearce as die Speler van die Jaar aangewys terwyl Anthony “AJ” Roman aangewys is as die Speler wat die Meeste Punte aangeteken het (226).
Die klub se huidige voorsitter is Jacob Frolick en die hoofafrigter is Mervin Samuels.



