Bergsig Skool se rugbyspelers presteer vanjaar uitsonderlik en dié span is tans onoorwonne in die plaaslike liga. Daarby kom 19 van die 22 OP LSEN-span se spelers uit Bergsig én ses van dié Bergsig-spelers is vir die Suid-Afrikaanse LSEN-span gekies.
Jeandré “JD” Esterhuizen, wat saam met Jeandré Schoultz Bergsig se eerste rugbyspan afrig, sê die seisoen het op die regte voet vir Bergsig se talentvolle spelers afgeskop. Dié twee onderwysers is ook aangewys as afrigters van die OP LSEN-span wat aanskoulike hardlooprugby gespeel het.
“Tydens die Bondedag in Bloemfontein op Grey se sportvelde het die OP LSEN-span die Vrystaat LSEN-span oortuigend met 64-5 geklop. In die volgende wedstryd teen die Vrystaat o.19 hoofstroomspan het die OP LSEN-span 17-17 gelykop gespeel,” sê Esterhuizen.
Daarna het die OP se Olifante hulle opponent tydens die SA Cravenweek in George op Oute- nikwapark behoorlik laat bontstaan.
“Wat lekker was is dat die manne se wedstryde direk op televisie uitgesaai is, so mense regoor die land kon OP se aanskoulike rugby op grootskerm geniet. In die heel eerste wedstryd het OP die gunstelingspan, die Valke, met 40-17 geklop. Ongelukkig het OP daarna teen Boland LSEN vasgeval met 24-27,” sê Esterhuizen.
SA spelers
In die uitspeelwedstryd vir derde en vierde plekke het OP teen die gashere, SWD (Arende) gespeel en 37-12 gewen. Alhoewel die OP LSEN algeheel derde was, is dié span aangewys as die beste span van die toernooi, met die beste dissipline, aanskoulikste rugby en die span met die beste sportmangees.
Daarby is Bergsig se Zinidene Whitebooi (OP LSEN onderkaptein) aangewys as die beste agterspeler van die 2022 LSEN Cravenweek-toernooi.
Nog ‘n prestasie vir die OP LSEN-span is dat sewe spelers, waarvan ses van Bergsig is en een van Westview, ingesluit is in die SA LSEN-rugbyspan. Dié spelers is Clayton Welgemoed van Westview en Bergsig se SA-spelers is Zinidene Whitebooi (onderkaptein), Delano Draai (kaptein), Luciano Cowie, Ethan Vaaltyn, Luvuyo Yeye en Babalo Xuza.
Op plaaslike vlak ding Bergsig se rugbyspan teen hoofstroomspanne mee en is na 15 ligawedstryde steeds onoorwonne. Bergsig was ook onoorwonne in 2001, 2014, 2018. Eerskomende Saterdag speel hulle teen Brandwag en op 20 Augustus teen Otto du Plessis.
SA keurder uit Bergsig
Nog ‘n pluimpie vir Bergsig se rugby is dat Leon Welgemoed, wat vanaf 1998 tot 2018 die afrigter van Bergsig se eerste rugbyspan was, vanjaar as ‘n SA LSEN-rugbykeurder aangewys is.
Welgemoed was ook vir 15 jaar die afrigter van die OP LSEN-rugbyspan en het in 2015 en 2016 die SA LSEN-rugbyspan afgerig. Vanjaar is hy as ‘n SA LSEN-rugbykeurder aangewys.





