Sy spoed, jakkalsdraaie en uitstekende vermoë om ‘n geleentheid te sien om met die rugbybal in die hand deur sy opponente se verdediging te glip, is van die eienskappe wat bygedra het dat Zinidene Whitebooi van Bergsig Skool op Kariega vanjaar aangewys is as Ruggas SA se beste LSEN-rugbyspeler in die land.
Dit was vanjaar die sesde agtereen- volgende jaar dat Ruggas SA aan top rugbyspelers en -afrigters van skolerugby erkenning gegee het. Nominasies is ingestuur en ‘n rekordgetal van 73 105 stemme is ingestuur om die top spelers in die onderskeie kategorieë te bepaal.
In die Ruggas SA kategorie vir LSEN-skole se rugbyspeler van die jaar, was Zinidene en Manqoba Kubeka van Elandspark kop-aan-kop met nog ‘n rekordgetal van 10 000 stemme. Zinidene is uiteindelik, nadat ‘n paneel na beeldmateriaal van die twee spelers op die veld gekyk het, as die mees verdienstelike van dié gesogte toekenning aangewys en is by ‘n spoggeleentheid op Stellenbosch hiermee vereer.
“Wat Zinidene se toekenning so uniek maak, is dat hy die eerste o.17-speler in Ruggas se ses jaar van dié toekenning is. Dit was nog altyd ‘n o.18-speler wat aangewys is as speler van die jaar,” sê JD Esterhuizen, afrigter van Bergsig se eerste rugbyspan.
“Zinidene is ‘n slim, kalm speler met ‘n hart vir rugby. Hy het die X-faktor en visie in hom, en hy sien ‘n kans voor hy dit benut. In die agterlyn is hy ‘n leier en kan uit niks ‘n geleentheid skep om punte aan te teken. Hy is ‘n briljante spanspeler en kan delegeer, ‘n regte play maker soos ons dit noem.”
Esterhuizen se afrigter-pad het met dié van Zinidene gekruis toe hy as o.12-speler van die Uitenhage Subunie-span met sy talent gewys het hoe om vir groot opwinding op die rugyveld te sorg. Zinidene het in sy o.12-jaar ook vir OP op die veld gedraf.
Jeandré Schoultz, mede-afrigter van Bergsig se eerste rugbyspan sê “Zinidene werk hard op die veld, hou van fisieke uitdagings, en het nie ‘n bang haar op sy kop nie. Maak nie saak hoe groot ‘n teenstan-der is nie, Zinidene sien altyd ‘n oop pad doellyn toe.”
Zinidene sê sy liefde vir rugby het afgeskop in die dae toe hy straatrugby en later Bulletjierugby gespeel het.
“Ek het ‘n gevoel vir rugby. Ek raak nie op my senuwees nie, ek fokus op die spel en as die bal kom, vat ek die grootste gat wat oop is tussen die senter en vleuel of binne en buite senters.
“Ek hou van hoe Cheslin Kolbe speel. Hy is ‘n fikse man en kan alles doen. Dit is hoe ek ook wil rugby speel.”
Oor die toekenning as Ruggas LSEN Rugbyspeler van die jaar sê Zinidene “dit is vir my lekker om my skool trots te maak.”
Zinidene is vanjaar by Bergsig aangewys as die Agterspeler van die jaar. Ander hoogtepunte sluit in: OP o.12; Uitenhage Subunie o.12 & o.13; Brandwag o.14A & o.15A; Bergsig o.16A (kaptein) en OP o.16 LSEN.
Bergsig se skoolhoof, Rudi Jonker, sê hy is trots en opgewonde oor Zinidene en dat sy prestasie ‘n voorbeeld is van wat by dié LSEN-skool bereik kan word.


