Ses atlete van Bergsig Skool het vanjaar aan die SASSA hoërskole atletiek-byeenkoms in Germiston deelgeneem en goed presteer. Een van dié atlete, Aphelele September, het die 1500m mans o.19 gewen en ‘n nuwe Suid-Afrikaanse rekord aangeteken.
Aphelele het met sy tyd van 04:15:42 die vorige rekord van 04:23:60 met meer as agt sekondes verbeter. Hy het ook ‘n tweede plek behaal in die 800m vir mans o.19.
Zinidine Whitebooi het ‘n agste plek in die 200m mans o.19 behaal en Nhlanhla Msitshana was vierde in verspring vir mans o.19 met sy persoonlike beste sprong van 6.06m.
Die ander atlete wat aan die SA’s deelgeneem het is Camorin November (100m en verspring seuns o.17), Bernadine Kruger (gewigstroot vroue o.19), Lizandré Singhapi (1500m mans o.19).
Die atlete se aanloop van die SA’s het begin in Januarie toe hulle tydens die Bergsig kleurbyeenkoms deel van die 14 atlete was wat vir die Distriks-byeenkoms gekwalifiseer het. Daarna het 12 atlete gekwalifiseer om aan die Metro-byeenkoms op die Westbourne Ovaalbaan deel te neem, waar 10 van Bergsig se atlete deurgedring het na die OP-kampioenskappe.
By die OP-kampioenskappe het Bergsig se atlete uitstekend gevaar en wen 10 goue medaljes, een silwer en drie brons. Al 10 Bergsig-atlete het OP-atletiekkleure verwerf waarvan ses atlete gekwalifiseer het om aan die SA’s in Germiston te kon gaan deelneem.
Bergsig Skool se atlete het hard geoefen vir hul prestasies en hul gedrag was deurgaans uitstekend. Die skool is voorwaar baie trots op hul atlete.
UITGEREIK: BERGSIG SKOOL



