Die geliefde slagter van Kariega, Pat (James) Moore is op
die ouderdom van 91 jaar op 2 Augustus oorlede.
Hy was bekend as die veteraan slagter van die Moore’s
Slaghuis.
Die besigheid doen meer as sewentig jaar al sake op Kariega.
Oom Pat het eers die onderneming as Pat’s Slaghuis begin in Van Riebeeckhoogte.
Daarna het die besigheid na die perseel oorkant die stasie verskuif en was
bekend as die Gardentown Butchery. Meer as veertig jaar lank al staan dit
bekend as Moore’s Slaghuis.
Hy is op Bedford gebore en was sy lewe lank in die
Humansdorp/Kariega omgewing. Hy het ook ’n plaas naby Steytlerville waarheen hy
gereeld gegaan het, en geniet het soos ’n stokperdjie. Hy was ook betrokke by
die Landbouvereniging.
Sy seun, Peter, sê sy pa was van die ou soort. “Ons sal hom
onthou as ’n regverdige en eerlike man. Hy was opreg en het die reguit pad
geloop.”
Peter vertel dat sy pa ’n kranige rolbalspeler was en het
talle trofeë ingepalm.
Oom Pat was byna 67 jaar lank getroud met sy vrou, Juliana
(89). Sy sê, “Ons het alles saam gedoen – ook saam rolbal gespeel,en was baie
gelukkig getroud en lief vir mekaar. Ek gun hom die verlossing van pyn en
ongemak.” Die paartjie het van 2001 tot 2013 op Jeffreysbaai gewoon. Die laaste
tyd het hulle in die Aandmymering tehuis vir bejaardes gebly.
Die twee Moore seuns, Peter en Alan, gaan aan met die
slaghuis, soos die afgelope tien jaar al. Pat Moore word oorleef deur sy vrou
Juliana, twee seuns, vier kleinkinders en vier agterkleinkinders.
Die troosdiens word Saterdag, 17 Augustus om 15:00 by die NG
Kerk Winterhoek op die hoek van Malansingel en Langenhovenstraat, Kariega,
gehou.





